Só het die Wes-Kaapse minister vir gemeenskapsveiligheid, Dan Plato, Maandag in George gesê. Plato het vroegoggend op die plaaslike radiostasie, EDENfm met die omroeper, Christo Gawie gepraat. Gawie het hom einde verlede jaar na George genooi ná verskeie moorde in Borcherds en talle klagtes oor swak diens en ondersoekwerk deur die polisie.
Inwoners van Parkdene, Thembalethu en Pacaltsdorp het reeds verskeie kere reg in eie hande geneem en sê skelms geniet meer beskerming as die gemeenskap. Swak ondersoekwerk lei ook daartoe dat 'n verdagte gou vrygelaat word, sake uitgegooi word of doodloop.
Inwoners van Rosedale in Pacaltsdorp het verlede week vermeende dwelmhandelaars en rowers uit 'n huis daar verjaag en hul besittings uitgedra en verbrand.
'n Vrou van Rosedale het Vrydagaand tydens 'n gemeenskapsvergadering vertel hoe sy en haar verloofde self 'n verdagte moes aankeer en hom aan die polisie oorhandig het. Sy beweer dat die ondersoekbeampte haar nog nooit gekontak het in verband met die saak nie. Die verdagte dreig hulle glo nou deur sy vinger oor sy keel te trek. Hieroor het sy ook 'n beëdigde verklaring afgelê, maar niks het daarvan gekom nie. Sy meld verder dat sy 'n week gelede by die speurhoof en die stasiekommissaris van Pacaltsdorp was asook by justisie, maar niemand het na haar terug gekom nie.
Tydens Plato se deur-tot-deur besoek in Borcherds het hy gesê hy verstaan mense se frustrasie. "Ek het verlede week 'n beroep op die nasionale minister van polisie, Nathi Mthethwa, gedoen. Daar is definitief te min polisiemanne en reserviste op straat. Sedert 2008 het die polisie duisende reserviste oor 'n tydperk van vyf jaar laat loop en die huidige polisiekorps moet nou dubbele werk verrig.
"Die misdaadsyfer voor 2008 was stabiel, maar na die uittog van reserviste is daar 'n styging op alle misdaadvlakke regoor die Wes-Kaap.
"As ons kyk na die stasies waar ernstige misdrywe is, soos Pacaltsdorp en Conville, sal enige stasiekommissaris vir jou sê tot 30 ekstra polisiebeamptes per stasie is nodig om misdaad te stabiliseer."
'n Oudpolisieman het beweer dat daar korrupsie by die Pacaltsdorp-polisie is en dat van die beamptes betrokke is by bendebedrywighede.
Hierop het Plato gesê dat baie polisiemanne en -vroue hulle werk uitstekend verrig. "Hulle is paraat en verdien elke sent wat hulle kry, maar ongelukkig is daar ook wat nie goed is nie." Hy het mense gevra om met bewyse na vore te kom. "Neem foto's wanneer hulle verkeerd doen, almal het selfone."
Die minister het ook Maandag met George-burgemeester, Charles Standers, en lede van die Conville-GPF vergader en saam met speaker, Mercia Draghoender, inwoners by Kidstop toegespreek.
Kapt. Bernadine Steyn, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder sê hulle beskik oor voldoende hulpbronne om polisiëringsfunksies te verrig. "Ons wil terselfdertyd die gemeenskap nooi om betrokke te raak by buurtwagte, misdaad sektorforums en GPF'S waar hulle insae kan hê in die diens wat hulle vereis. Dit bied die gemeenskap ook die geleentheid om hul klagtes te opper."
Oor bewerings van korrupsie by die Pacaltsdorp-stasie sê Steyn: "Ons is nie in die posisie om te reageer op vae stellings nie. Ons versoek die persoon wat die bewering maak om 'n afspraak te maak met die stasiebevelvoerder van Pacaltsdorp."
Oor die presiese aantal polisiebeamptes in die groter George-area het Steyn gesê: "Dit vorm deel van ons operasionele inligting wat nie bekend gemaak word nie."
.jpg)
Tydens Plato se deur-tot-deur besoek in Borcherds het hy gesê hy verstaan mense se frustrasie. Foto: Myron Rabinowitz
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'