Die verkeersafdeling het die tydelik geslote toetsstasie in Hiberniastraat net vir die dag beman om motoriste, bus- en taxi-bestuurders die geleentheid te gee om voor die afgelope Paasnaweek seker te maak hulle voertuie is veilig om die lang pad aan te durf.
George se waarnemende verkeershoof, Mario Giewelaar is baie tevrede met die opkoms. "Voertuigeienaars moet asseblief net besef dat die gratis voertuigverslag nie gebruik kan word vir voertuigregistrasie of -lisensiëring nie. Hierdie is 'n diens aan die publiek met die oog op padveiligheid oor die Pase."
Die motoriste by die toetsstasie het geduldig hul beurt afgewag en deur die bank die gratis toetsdag verwelkom. Fanie en Martie Cronjé van George het gesê dit sal gaaf wees as die munisipaliteit die diens meer gereeld aanbied. "Ons gaan die vakansie bietjie Wellington toe en dis baie gerusstellend om te weet jy ry met 'n veilige motor. Sou daar iets fout wees kan 'n mens dit onmiddellik laat regmaak."
Die toetsstasie is steeds 'n geruime tyd gesluit hangende die uitkoms van 'n ondersoek na beweerde onreëlmatighede. Giewelaar sê die George-stadsraad sal eersdaags besluit of die toetsstasie se dienste uitgekontrakteer gaan word.
"Dit is die neiging landswyd om die diens uit te kontrakteer. Ons sal 'n diensooreenkoms met so 'n kontrakteer in die ooreenkoms inbou wat sal verseker dat gratis toetsdae steeds sal plaasvind. Die nuwe Wet op Nasionale Landvervoer bepaal ook dat alle taxi's by 'n munisipale toetsstasie getoets moet word, so dit sal ook in so 'n kontrak vervat word."
Volgens Giewelaar is daar planne in plek om in die toekoms op 'n geïntegreerde wyse met provinsiale verkeer saam te werk om verkeersdienste verder te verbeter.

Fanie en Martie Cronjé van George het hulle voertuig gratis by die George munisipale toetstasie laat toets voor hulle met gerustheid die langpad na Wellington aangepak het.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS