GEORGE NUUS - Deur haar familie, vriende en elkeen wat haar pad gekruis het, sal sy as 'n sprankelende vrou met 'n passie vir die lewe en 'n innige liefde vir haar man, haar familie en haar honde, onthou word.
Almal wat haar geken het is dit eens - sy is te vroeg gevat. Yolandé Prinsloo (41) sal beslis gemis word.
Prinsloo, 'n werknemer by Mr. Tekkie, is Vrydagaand, 19 Julie, omstreeks 22:45 tydens 'n motorongeluk in Georgeweg, Blanco, oorlede toe haar silver Chevrolet-sedan die pad verlaat en 'n bloekomboom getref het.
Sy was onderweg van Blanco na die middedorp toe sy beheer oor haar voertuig, kort voor die brug in Georgeweg, verloor het.
Die rede vir die ongeluk kon nog nie bevestig word nie. Haar liggaam moes met meganiese kake uit die wrak verwyder word. Sy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Prinsloo se familie het bevestig dat sy binnekort ter ruste gelê sal word, maar het versoek dat begrafnisreëlings nie gepubliseer word nie. "Ons wil regtig net die familie en haar close vriende daar hê," het haar man van 17 jaar, Leon, gesê.
Sy word deur haar man, haar ouers, Carien en Johan de Lange, haar suster Chanel Ruthven, broer Eugene de Lange en haar geliefde bouvier-hondekinders, Nuskha en Brutus oorleef.
Leon het die George Herald gevra om die volgende gedig te plaas. "Ek glo dit is wat sy vir ons almal wil hê," het hy gesê.
'n Brief uit die hemel
As môre sonder my begin
as die son opkom en jy vind jouself bewoë
en ek is nie meer daar waar jy my
bly soek met trane in jou oë.
Dan wens ek dat jy nie meer soveel
soos gister, sal treur oor my.
Terwyl jy bly dink aan al die baie dinge
wat ongesê bly.
Ek weet hoeveel jy vir my lief is
en net soveel as wat ek vir jou ook lief is,
sal ek elke keer wat jy aan my dink
weet dat jy bly my hart se dief.
So as môre sonder my begin
moet nie aan my dink as vêr weg,
want elke keer wat jy aan my dink
sal ek by jou wees: in jou hart vasgeheg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'