Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Tweejarige peuter van Parkdene het Maandag vir die eerste keer in 'n jaar en 'n half die vryheid gehad om 'n uitstappie weg van sy huis te onderneem, danksy die Eden Lions en 'n paar goedhartige Samaritane.
Klein Alestiano Korkee is weens 'n longtoestand konstant aan 'n suurstof-masjien gekoppel.
Die afstand wat hy van die huis af kon wegbeweeg, is bepaal deur die lengte van die toevoerpyp wat aan die masjien in die huis gekoppel was. Maandag het sy lewe egter drasties ten goede verander toe 'n nuwe draagbare suurstofmasjien vir sy gebruik geskenk is.
Dit het gebeur nadat Sean Snyman van die Lions op Georgiete Staan Saam se Facebook-blad van Alestiano se probleem verneem en geld begin insamel het.
Dit het drupsgewys gegaan, maar toe 'n Mosselbaaise inwoner, André Pieterse, 'n administratiewe klerk by die Life Bay View-hospitaal, van Snyman se pogings op Facebook lees, het hy die maatskappy Ecomed Pty (Ltd) in Krugersdorp genader vir 'n donasie. Volgens Pieterse was Ecomed dadelik bereid om die masjien, wat R51 000 kos, te skenk.
Dit is Maandag aan Alestiano se dankbare ouers, Elonia Campher en Alesto Korkee oorhandig. Die gesin is op dieselfde dag deur Timberwolf Spur op 'n ete getrakteer om Alestiano se eerste uitstappie van die huis af behoorlik te vier.
Barbara Gomes van Mini Pick n Pay was ook by die oorhandiging om 'n koopbewys van R1 000 aan Alestiano se ouers te skenk.
Nog 'n baba van Parkdene, die ses maande oue Caywen van Wyk, wat aan chroniese asma ly en gereeld per ambulans hospitaal toe gejaag moet word wanneer hy 'n asma-aanval kry, het 'n verstuiwingstoestel (nebuliser) gekry danksy Snyman se kranige netwerkvaardighede. Caywen se ma, Desiree het gesê sy is baie dankbaar dat die paniekbevange ritte nou iets van die verlede behoort te wees.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'