GEORGE NUUS - Die stroom van miljoene liters skoon water wat twee damme op die plaas Tikketai van Stephan Gericke vir bykans ses weke laat oorloop het, het gestop.
Gericke het Dinsdag by navraag gesê die water loop nog net met 'n dun straaltjie uit sy een dam oor.
Die George-munisipaliteit het verlede week bevestig dat dit drinkwater afkomstig van die George-watersuiweringswerke was wat by 'n hooftoevoerpyp uitgeloop het op grond wat grens aan Gericke se plaas in Pacaltsdorp.
Gericke se herhaalde pogings vir langer as 'n maand om die siviele ingenieursafdeling sover te kry om die stukkende pyp te herstel, het op dowe ore geval. Toe hulle uiteindelik reageer, is bevind dat die pyp op openbare werke se grond geleë is en die verantwoorde-likheid vir herstelwerk op dié departement rus. Wes-Kaapse openbare werke het die koerant na die nasionale departement verwys.
Geen reaksie is ontvang op 'n e-posnavraag op 8 Mei aan die woordvoerder, Lunga Mahlangu nie. Hy het per telefoon bevestig dat hy die e-pos ontvang het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'