GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit moet kom met 'n strategiese plan betreffende die groot verliese aan bome in George.
Só meen 'n plaaslike argitek, Jaap van Lille, wat ontstoke is oor die munisipaliteit se "ondeurdagte" besluit om 'n "grasieuse, gesonde" seringboom op die sypaadjie in Stockenströmstraat af te saag, in 'n tyd dat die dorp reeds 'n groot aantal bome weens die stompkopkewer verloor het.
"As ons dorp so maklik van bome ontslae raak, waar gaan ons eindig? Ons het die afgelope drie jaar soveel bome weens die stompkopkewer verloor en geen vervangers vir hierdie bome is geplant nie. Ons het drie groeiseisoene so gemis. Net in Stockenströmstraat is daar plek vir vyf nuwe bome," sê Van Lille.
Die sering het volgens hom geen risiko van dooie takke gehad nie. "'n Ander boom moes eers geplant gewees het voordat die sering net afgesaag is."
Volgens die munisipaliteit is die boom verwyder omdat die wortels krake in die grensmuur van 'n privaat eiendom veroorsaak het.
Van Lille sê egter dis onwaar-skynlik, want die tipe krake waaroor die klagte gegaan het, is 'n teken van insinking van die grond en nie wortels wat dit opdruk nie.
"Die munisipaliteit kon die grond opgegrawe het en as die wortels die oorsaak was, kon hulle dit afgespit en 'n metaalplaat ingeplant het om verdere groei daar te keer.
"Verder af in die straat is daar dieselfde situasie: dieselfde boom van dieselfde ouderdom en grootte, en dieselfde afstand weg van die grensmuur, maar geen krake nie. Daar is nog sulke voorbeelde in die straat."
Die munisipaliteit se ander rede vir die verwydering was dat die sering se sytakke op 'n lae hoogte oor mure en die pad gegroei het, en dus 'n risiko vir eiendom, padgebruikers en voetgangers ingehou het. Van Lille sê egter die meeste van die seringbome en Jakarandas in Stockenströmstraat toon dieselfde lae sytakke. "Gaan al hierdie bome ook nou afgekap word?"
Die munisipaliteit het vir Van Lille gesê 'n vervanger sal vir die sering geplant word sodra bome van die departement van omgewing, visserye en bosbou ontvang word. Die afleweringsdatum van die bome is onbekend en 'n datum vir planting kon nie verskaf word nie.
George Herald wag vir kommentaar van die munisipaliteit oor of daar 'n strategiese plan is om nuwe bome te plant om op te maak vir bome wat verloor is.
Die seringboom sal nie weer uitloop nie. Gif is oor die afgesaagde stomp gesmeer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'