GEORGE NUUS - Die verwoestingswerk van die stompkopkewer (euwallacea nr. fornicates) en sy simbotiese swam (fusarium euwallacea) kan 'n nasionale ramp wees.
Die waarskuwing is deur dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukenner van George, gemaak.
Hy het by navraag aan die George Herald gesê sover sy kennis strek is daar nog nie 'n nasionale gekoördineerde poging om die situasie op te los nie. Dit kom teen die agtergrond van kommer in George dat die verwoestingswerk voortduur. Dit is algemeen bekend dat dit nie net in George voorkom nie, maar ook ander dele van die land.
Johanna Vermeulen, 'n inwoner van George, het reeds meer as twee jaar gelede gesien daar is fout met bome in die gebied. Sy het onder meer in 2018 Braam du Preez, 'n bosboukonsultant, gekontak. Du Preez het die bal aan die rol gesit. Hy het in Februarie 2018 monsters van die bome na Pretoria geneem.
Tydens sy besoek het hy dit met kundiges by die instituut vir bosbou en landboutegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria bespreek. Prof. Wilhelm de Beer van Fabi het later George self besoek en ook op Knysna monsters geneem. Hy en sy span het vasgestel dat die stompkopkewer en sy simbiotiese swam beslis die skade veroorsaak.
Sedertdien het vrae ontstaan oor wat om met byvoorbeeld besmette hout te doen.
Steenkamp het Dinsdag gesê twee moontlike stortingsterreine is deur die munisipaliteit geïdentifiseer. Die munisipaliteit moet nou deur sy normale kanale goedkeuring kry.
Hy het benadruk die kewer is nie rustend nie, al is dit winter. Die kewer verlaag net sy aktiwiteite as temperature onder 16°C daal. Die probleem is nog geensins verby nie. Wanneer die lengte aanbreek sal mense eers werklik kan sien hoe hul bome geraak is. Die kewer val hoofsaaklik bladwisselende bome aan.
Hy beveel aan dat mense in September sistemiese behandeling op hul bome toepas. Na verwagting sal dit 200 dae kan hou.
Steenkamp het ernstige bedenkinge of 'n nasionaal gekoördineerde plan gou in plek gaan kom.
Hy glo dit sal goed wees as so 'n plan wel ingestel word. Dit sal byvoorbeeld help dat die korrekte inligting versprei word. Op die oomblik gebeur dit dat mense paniekerig optree.
Du Preez het gesê hy het onlangs 'n geleentheid bygewoon waar ernstige kommer oor die aangeleentheid uitgespreek is. Daar is selfs gewaarsku dat die ergste nog kom.
Hy het bygevoeg dat Fabi hul bes doen om die probleem op te los. Sy advies is dat mense nou die wintertyd moet benut om te beplan. Kwekerye behoort ook betrek te word in die proses.
Piet Deyzel, eienaar van die Plantjie-kwekery, het gesê hy is bewus van die uitdagings met die kewers. Dit veroorsaak egter nie dat mense minder bome koop nie.
Bennie Niemand, mede-eienaar van Bargain Nursery, het beaam dat mense steeds bome koop.
"Mense is lief vir bome."
Daar is wel vrae oor die situasie en onsekerheid. Mense praat oor die kewer. In die stadium lyk dit of min inligting beskikbaar is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'