TUINROETE | KAROO NUUS - Dit blyk dat die sprinkaanplaag wat sedert Sondag in die streek woed met die Swartberge langs trek.
Boere spook steeds om die plaag onder beheer te kry.
Teen laat Dinsdagmiddag was daar sprake dat die sprinkane hul weg na die Matjiesrivier-omgewing buite Oudtshoorn gebaan het. Ook in Prins Albert sukkel boere om die sprinkane in bedwang te bring.
Calitzdorp
Lohan Fourie, 'n boer van Calitzdorp, het Woensdagoggend aan Oudtshoorn Courant, George Herald se susterskoerant, gesê Dinsdagaand was rustiger.
"Ons het Maandagaand 'n groot klomp gespuit. Die spuitspanne het tot Dinsdagoggend omtrent 02:00 gespuit. Dit het gelyk of ons geen verskil gemaak het nie en teen Dinsdagmiddag was daar definitief minder sprinkane wat gespuit moes word. Teen Dinsdagaand was daar een groot swerm wat in Calitzdorp rondgevlieg het. Ons is nog nie presies seker waar hulle gaan sit het nie."
Fourie sê hulle het 'n spuitspan van Laingsburg gekry en hy kon ongeveer drie groot swerms identifiseer.
"Dit is gelukkig nie so baie soos waarmee die boere in die Groot-Karoo sukkel nie en ons het die regte tools om die sprinkane te kan spuit. Die probleem is egter die eiers wat reeds gelê is. Ons kan niks daaraan doen nie omdat ons nie presies weet waar dit gelê is nie.
"Die wyfie kan tot 70 eiers op 'n slag lê en dit kan tot twee jaar dormant lê. Wanneer die weer gunstig is kan hulle uitbroei en dan het ons weer die probleem. Daar is ook niks wat mens kan doen om voorkomend op te tree nie."
Volgens Loubsher Coetzee, ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se algemene sakekamer, lyk dit of hulle deur die wind versprei.Sprinkane in die spanspeklande in Calitzdorp.
"Dit is 'n reusekommer vir alle boere, en ook in Oudtshoorn, oor die massiewe saadproduksie wat hier plaasvind. Dit is ook nie iets wat ons al mee te doen gehad het in ons streek nie. Sprinkane is ook nie kieskeurig nie en teiken nie net plase nie."
Hulle sit waar hulle kos kry en kan dus in die mense se tuine ook inbeweeg. Dit is makliker om hulle in die lande te spuit want in die veld raak toegang met voertuie moeilik.
"Die ander probleem is die bye. As ons hulle spuit terwyl hulle vlieg kan ons die bye ook verloor wat kardinaal belangrik is vir die bestuiwing."
Coetzee het Dinsdag gesê dat hulle besig is om skenkings bymekaar te maak om boere te help met die onkostes van die gif.
"Boere sukkel steeds finansieel na die droogte en om nou nog gif ook te koop, wat 'n onbeplande uitgawe is, maak die boere seer."
Daar is 'n Karoo Rampfonds gestig, sou enigiemand graag wil skenk.
"Agri Wes-Kaap het ook 10 dromme gif na Prins Albert gestuur om boere daar te help. Die boere boer met gewasse wat na mense se tafels gaan en op die einde van die dag raak dit die verbruiker net so baie soos die produseerder.
“Die rampfonds het ook ‘n artikel 18 by wat beteken besighede kan dit van belasting eis. Al wat nodig is, is ‘n naam en van of naam van die besigheid, fisieke adres, e-pos adres, die hoeveelheid geld wat geskenk is en die datum waarop die donasie gemaak is.”
Vir meer inligting, kontak Helen Butler by 044 272 6637 of business@odnchamber.co.za
Lees meer in susterskoerant, Oudtshoorn Courant
Sprinkane vreet gulsig aan enigiets wat voorkom.
Sprinkane in die veld in die Calitzdorp-omgewing.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'