Update
GEORGE NUUS - "Ek dank die Here dat alles verby is. Ek was op my knieë."
Só het oudraadslid Mercia Draghoender Dinsdagoggend gesê, na sy die nuus ontvang het dat 'n klag van diefstal wat vroeër die maand teen haar aanhangig gemaak is, deur die hof uitgegooi is.
Draghoender is daarvan beskuldig dat sy twee pakkies speserye ter waarde van R20 by 'n vleishandelaar, Butcher's Corner in George Industria, gesteel het.
Die dossier was na die staatsaanklaer verwys vir 'n beslissing oor vervolging. "Volgens die ondersoekbeampte het die staatsaanklaer gesê dat hulle die beeldmateriaal bekyk het en duidelik kon sien dat dit nie haar [Draghoender] bedoeling was om te steel nie," het George-polisie se kommunikasiebeampte, kapt. Nolonwabo Tshengu, gesê.
"Sy het vir die res van die produkte betaal. Dit word as 'n eerlike fout beskou en dit is die rede waarom die saak uitgegooi is."
'n Woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, Eric Ntabazalila, het egter by navraag gesê nadat die waarde van die items in ag geneem is, het die staat besluit om nie te vervolg nie. "Ons plaas normaalweg nie diefstalsake van hierdie waarde (R20) op die hofrol nie. Neem asseblief kennis dat die staatsaanklaer in hierdie saak geensins met die ondersoekbeampte gepraat het nie en nie die redes [soos deur die polisie aangevoer] deurgegee het nie.
Volgens Draghoender het sy eers later agtergekom dat sy die speserye in haar rok se sakke gesit het. Ofskoon sy die bestuurders van die onderneming gesmeek het om die saak te laat vaar, wou hulle nie bes gee nie. Die besigheid het vroeër ook deurgeloop onder diefstal en vir hulle gaan dit oor die prinsiep van die saak, het een van die bestuurders gesê.
Die bestuurder het gister bevestig dat hulle nog geen terugvoer oor die saak ontvang het nie. "Wat ek wel kan sê is dat ons verkope van Nyama Choma BBQ Spice by al ons takke in die dorp geweldig toegeneem het. Dit is asof almal wil weet wat presies hierdie speserye so onweerstaanbaar maak," het hy gesê.
"Ek stem glad nie saam met die staatsaanklaer se interpretasie van die video nie. Vir my was dit blatante diefstal. Dit lyk my party mense is eenvoudig bo die reg."
Kommentaar van die nasionale vervolgingsgesag oor die saak word afgewag.
Vorige artikel: Oudraadslid sorg steeds vir 'spice'
Former George councillor Mercia Draghoender will not have to defend herself in court against a charge of theft. Draghoender stood accused of stealing two packets of spice worth R20 from Butcher's Corner in George Industria. The state declined to prosecute after considering the value of the items involved.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'