GEORGE NUUS - Ofskoon dit sedert vroeg vanoggend goed gereën het, is geen noemenswaardige vloedskade aangemeld nie.
Gerhard Otto, hoof van Tuinroete-rampbestuur, het kort gelede aan George Herald gesê op plekke is selfs 70mm reën aangemeld.
Die intensiteit daarvan is egter versprei. Dit val in vlae. Dit oortref nie die vermoë van die stormwaterstrukture nie. Tuinroete-rampbestuur hou al van vanoggend 4:00 die situasie dop.
Al die munisipaliteite in die streek is gekontak. Daar word voortgegaan om die situasie te monitor.
Daar was wel 'n voorval vanoggend toe grond op die N2 tussen Groot-Brakrivier en Klein-Brakrivier beland het. Sanral gee aandag aan die situasie.
Volgens Otto moet in gedagte gehou word dat dit baie droog was. Die reën word verwelkom.
"Dit is manna uit die Hemel." Hy het 'n beroep op padgebruikers gedoen om uiters versigtig te bestuur. Veral as hulle grondpaaie aandurf.
Na verwagting sal die reënweer teen vanaand en môre begin opklaar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'