So dring *Mikka aan, die skoonsuster van een van die drie Oosterlinge wat deel uitmaak van die vyf verdagtes wat Vrydag in Knysna se Waterfront aangekeer is in moontlik een van die grootste vondse van rou kokaïen nog ooit in die Suid-Kaap. Mikka was een van twee piepklein Oos-terse vroue wat Maandag angstig buite die hof hier gewag het vir die groep vermeende kokaïensmokkelaars om voor te kom. Haar broer is een van drie Kantonneessprekende verdagtes (die ander twee is Kapenaars) en sy het in gebroke Engels verduidelik dat sy en haar skoonsus spesiaal van Johannesburg af gevlieg het om kos en skoon klere vir haar broer te bring. "Ons woon al 19 jaar in Suid-Afrika en is in die restaurantbedryf. Niemand in ons familie was al ooit in sulke dinge betrokke nie," het sy vriendelik probeer verduidelik.
"My broer het vir sy vriende in Knysna kom kuier omdat hy baie lief is vir oesters - hy het nog skaars in 'n stoel gesit of die polisie storm daar in!" vertel sy grootoog.
Vrydag was die Waterfront selfs meer bedrywig as gewoonlik toe Knysna se polisie onder leiding van twee van hul topspeurders in samewerking met Misdaad-intelligensie toegeslaan het op een van die luukse wooneenhede in die marina wat elkeen 'n eie privaat kaai het.
En was dit nie dat die vermeende Oosterse smokkelaars klaarblyklik onervare skippers was nie, sou ander inwoners van dié spogeenhede dalk nooit snuf in die neus gekry het oor wat letterlik onder almal se neuse besig was om te gebeur nie.
"Hulle het eintlik net ons aandag getrek omdat hulle duidelik so gesukkel het om elke keer die seiljag weer vasgemeer te kry," het een van die werkers van 'n restaurant skuins oorkant dié spesifieke dubbelverdieping-wooneenheid anoniem gesê. Skares vakansiegangers beweeg binne hoor- en sienafstand van waar die vermeende smokkelaars manies bedrywig was om hul lywige vrag van die seiljag na hul spogwoonstel aan te dra.
"Dit het gemaak dat ons hulle nou en dan dopgehou het, net om te begin agterkom, maar hierdie ouens doen ander dinge wat nogal vreemd is vir mense wat 'n seiljag gehuur het wat tipies gebruik word vir diepseehengel," vertel die kelner. Aangesien dié restaurant tot die vroeë oggendure oop is, het werknemers begin opmerk die Oosterlinge werskaf snags verwoed op hul seiljag.
Volgens die polisie se Wes-Kaapse mediawoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, wat self op die toneel was, is die verdagtes binne die woonstel vasgetrek nadat hulle inligting van die publiek ontvang het. Die polisie kon hul oë skaars glo toe hulle letterlik op 48 blokke onverwerkte kokaïen afkom wat so hoog soos 'n muur gestapel was.
"Dis min dat jy so iets sien," het genl.-maj. Allan Modisa, hoof van die Tuinroete-polisiegebied ingenome net sy kop geskud. Die waarde van die vonds word amptelik as R380 miljoen aangegee, maar speurders wat met die saak werk, meen dit is meer as R600 miljoen werd. Die spogwoonstel, wat luuks gemeubileerd is, lyk of dit verniel is. Die eiendomsagent wou nie kommentaar lewer of bevestig aan wie die eenheid uitverhuur was nie.
Die vyf verdagtes is in aanhouding tot 23 Desember wanneer hulle weer in Knysna se hof verskyn en daar oor hul borgaansoeke beslis sal word. Hulle is Cheng Cuo (57), Cjuwei You (30), Zli Liu (51), Mogamat Adams (41) en Beverly Jones (47).
Daar word na nog twee van die verdagtes gesoek.
.jpg)
Die seiljag wat die polisie gekonfiskeer het. Die boot sal in bewaring van die polisie bly as bewysstuk.
ARTIKEL EN FOTO'S: ANOESCHKA VON MECK