Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hy is 'n minister in die Wes-Kaapse kabinet vir al die mense. Die verkiesing is nou verby en hy dien almal - ongeag hul politieke oortuigings. So het Tertuis Simmers die nuwe Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, aan die George Herald gesê enkele dae nadat hy in die pos aangestel is.
Hy het die afgelope naweek die Suid-Kaap besoek en onder meer 'n draai in George gemaak. Saam met hom was sy gesin, Monique Simmers (eggenoot) en die egpaar se twee seuntjies, Alexander (4), en Carlisle (2).
Die 36-jarige Simmers van George is iemand met diep wortels in die Suid-Kaap. Hy kom ook al 'n lang pad in die politiek en het verskeie senior posisies in die DA beklee.
Hy was in die verlede onder meer speaker van die destydse Eden-distriksmunisipaliteit. Hy het ook op die burgemeesterskomitee van die distriksmunisipaliteit gedien. In 2017 het hy 'n lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer onder die DA-vaandel geword.
Sedert hy gehoor het hy word in die kabinet aangestel, het sy lewe ingrypend verander. Hy moes vinnig aanpassings maak en onder meer personeel in sy kantoor aanstel. Daar was ook talle vergaderings waar hy hom eerstehands moes vergewis van die ministerie.
Hy mag nou nie meer net sommer sy eie voertuig bestuur nie en daar is 'n lyfwag wat saam met hom beweeg. Simmers het vinnig daarop gewys dat dit nie is waaroor dit gaan nie. Dit gaan vir hom oor die impak van sy werk op die lewens van miljoene mense.
Hy sien uit na die nuwe uitdaging, maar daar is nuwe aanpassings. Tot voor sy aanstelling was hy lid van die wetgewer se staande komitee vir menslike nedersettings en hy het dus 'n goeie idee waaroor dit gaan. Hy was toe betrokke in 'n oorsigrol. Die skoen is egter nou aan die ander voet. Dit beteken 'n verandering in denkwyse.
Simmers het reeds 'n ontmoeting gehad met die hoof van die departement. Hy weet daar is wette wat uitvoerende magte aan hom gee. Hy het bygevoeg: "Dit is 'n gekompliseerde, maar ook baie interessante ministerie."
In die aanloop tot die verkiesing in die verkiesingsveldtog het hy in twee en ’n half maande 'n paar duisende kilometer in die provinsie gery. Dit het beteken hy kon 10 van die 14 munisipaliteite in die provinsie besoek.
Tertuis Simmers, nuwe Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings.
Foto: Eugene Gunning
Dit gaan vir hom oor die impak van sy werk op die lewens van miljoene mense.
Hy sien uit na die nuwe uitdaging, maar daar is nuwe aanpassings. Tot voor sy aanstelling was hy lid van die wetgewer se staande komitee vir menslike nedersettings en hy het dus 'n goeie idee waaroor dit gaan. Hy was toe betrokke in 'n oorsigrol.
Die skoen is egter nou aan die ander voet. Dit beteken 'n verandering in denkwyse.
Kyk 'n video hieronder:
As minister gaan hy hom onder meer ten doel stel vir:
- 'n Meer deursigtige behuisingswaglys. Die regte mense moet die regte huise kry. Daar is mense wat al lank wag vir huise.
- Innovasie. "Ek wil kyk hoe menslike nedersettings verder innoveer kan word." Gemeenskappe moet integreer op 'n innoverende denkwyse.
- Benutting van staatsgrond. Daar is grond wat aan die nasionale-, provinsiale en plaaslike regeringsfere behoort en braak lê.
Daar gaan gekyk word hoe die staatsgrond benut kan word vir dienslewering.
Volgens Simmers is hy bereid om na mense te luister en eerlike antwoorde te gee. Sy benadering is: Wees eerlik en moenie leë beloftes maak nie.
Monique het gesê sy is baie trots op haar man, "Dis welverdiend na al sy harde werk."
Simmers is nie die enigste lid van die kabinet wat van die Suid-Kaap kom nie. Die nuwe Wes-Kaapse premier, Allan Winde, kom oorspronklik van Knysna. Donald Grant buitengewone adviseur vir Winde kom van Plettenbergbaai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'