GEORGE NUUS - Hannah Haarhoff mag dalk net ses jaar oud wees, maar moenie dink dat iets in die pad staan van die klein dogtertjie nie. Sy het onlangs op haar sesde verjaarsdag die derde hoogste bergpiek in die Outeniquaberge, Vensterberg, uitgeklim. Dit word beskryf as 'n roete wat mens liefs moet vermy as jy hoogtevrees het.
Hannah se ouers, Willem en Daleen het haar op die tog vergesel. Hulle moedig graag hulle kinders, Mikaleigh (19), Declan (12) en Hannah aan om aan sport deel te neem en om dinge in die buitelug te doen.
Hannah is 'n gr. R-leerling by Gracehill College. Haar ouers is ywerige hardlopers en veral betrokke by veldwedlope.
Willem het self al nege keer die strawwe Comrades-marathon voltooi en hy sal graag nog een wil hardloop. As jong seun het hy destyds vasgenael voor die televisie gesit wanneer die Comrades-marathon uitgesaai is.
Hy is 'n ouditeur en 'n klompie jare gelede het sy werkgewer hom na Nigerië verplaas. Uiteindelik het Daleen en hy 10 jaar daar gewoon. Tydens hul verblyf het hulle die geleentheid benut om Afrika te verken en aan buiteluggeleenthede deel te neem.
Hannah Haarhoff wys haar elektroniese speelgoed bo op Vensterberg. By haar is haar ouers Daleen en Willem Haarhoff.
Terug in Suid-Afrika het hulle eers in Pretoria gewoon en toe hier in die Tuinroete beland.
Hulle kan nie uitgepraat raak oor die geleenthede hier aan die Tuinroete vir mense wat graag in die natuur wil ontspan nie.
Sowat 'n jaar gelede het Willem vir Hannah saamgeneem op 'n staptog teen Vensterberg. "Ek wou haar nie alleen by die huis los nie en het haar omgekoop met 'n Bar One."
Ongelukkig kon hulle die dag nie tot bo stap nie.
Met haar sesde verjaarsdag het hulle weer gaan stap. Daleen is die keer saam en Hannah het haar eie rugsak gepak. Dit het hulle sowat twee en halwe ure tot bo geneem. Daar aangekom het Hannah haar rugsak oopgemaak en doodluiters haar elektroniese speelgoed uitgehaal om mee te speel.
Daleen vertel dat hulle hul kinders aanmoedig om buite te kom. Buite sien hulle die voëltjies, die blomme en die natuur. Daar besef hulle die wêreld is groter. Hulle sien dinge bo-op die berg wat hulle nie onder sien nie.
Hannah het vertel dat dit moeilik was en dat sy moeg geraak het. Sy sal dit egter beslis weer doen en sy was nie bang toe sy opgeklim het.
Hannah se ouma, Ena Haarhoff, het vertel dat sy baie beïndruk was met haar kleindogter.
Sy het dit self 'n tydjie terug aangedurf, maar het 50 meter voor die eindpunt moes touopgooi weens hoogtevrees.
Willem Haarhoff, Hannah, Declan en Daleen. Foto: Eugene Gunning
Willem en Hannah Harhoff op die Vensterberg roete.
Hannah Haarhoff by van haar geliefde speelgoed. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'