Update
GEORGE NUUS - Die ses verdagtes wat aanvanklik van poging tot moord aangekla is ná Sylvester Uithaler (33) op Sondag 21 Oktober ernstig aangerand en vir dood gelos is, het Vrydag 2 Februarie weer in die George-landdroshof verskyn waar die klag na dié van moord verander is.
Dit volg ná Uithaler kort na 17:00 deur 'n groep mense in die parkie tussen Mission-, Lammervanger- en Reierstrate, ernstig aangerand is en op Saterdag 4 November in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorlede is nadat sy lewensondersteuningstelsel afgeskakel is.
Die verdagtes tussen die ouderdomme van 18 en 56, Robin Gordon, Aisha Saaiman, Jaydan, Danelle, Legan en Shamila Canary is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat en die saak is tot verlede Vrydag uitgestel.
Volgens 'n bron met insae rondom die voorval, het een van die beskuldigdes glo vir Uithaler vasgegryp waarna 'n ander hom met 'n mes in sy sitvlak gesteek het.
Toe hy neerval het van die ander hom glo herhaaldelik in die sy en sitvlak gesteek terwyl daar op sy kop, wat op 'n groot klip gelê het, getrap is.
Die saak is uitgestel tot Vrydag 7 Junie weens 'n lang lys items wat tydens die ondersoek eers afgehandel moet word voor die saak kan voortgaan.
Verskeie verklarings, CCTV-beeld-materiaal en die uitslae van die nadoodse ondersoek, is onder die items wat nog uitstaande is in die ondersoek.
Drie van die verdagtes het aangedui dat hulle vir regshulp aansoek doen terwyl die ander drie deur privaat prokureurs verteenwoordig word. Die verdagtes se borgtog is verleng.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’