Update
GEORGE NUUS - Gemoedere loop hoog in Pacaltsdorp ná die ses verdagtes wat van die aanranding en moord op Sylvester Uithaler (33) verdink word, die dag ná hul inhegtenisname elk op borgtog van R1 000 vrygelaat is.
Die gemeenskap, asook die oorledene se familie, het baie vrae rondom dié besluit en voel die regstelsel het hulle erg gefaal.
Uithaler is op Sondag 21 Oktober kort na 17:00 deur 'n groep mense in die parkie tussen Mission-, Lammervanger- en Reierstrate, ernstig aangerand. Uithaler is glo tussen 17:00 en 18:00 deur die groep genader en aangerand terwyl hy en 'n vriend gestaan en gesels het.
Volgens 'n bron met insae rondom die voorval, het een van die beskuldigdes glo vir Uithaler vasgegryp waarna 'n ander hom met 'n mes in sy sitvlak gesteek het.
Toe hy neerval het van die ander hom glo herhaaldelik in die sy en sitvlak gesteek terwyl daar op sy kop, wat op 'n groot klip gelê het, getrap is.
Arrestasie
Die Pacaltsdorp-polisie het Woensdagaand, 31 Oktober, ses verdagtes aangekeer op 'n klag van poging tot moord. Uithaler is egter op Saterdag 4 November in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorlede nadat sy lewensondersteuningstelsel die vorige dag omstreeks 13:00 afgesit is.
Volgens 'n provinsiale polisiekommunikasiebeampte, kapt. FC van Wyk, gaan die aanvanklike aanklag van poging tot moord nou na dié van moord verander word.
Op 'n navraag aan die polisie of die voorval moontlik boendoehof-verwant kon wees, het van Wyk gesê dat die ondersoek nie daarop dui nie.
Letrisa Uithaler (links), haar dogter Alisha, en haar man, Adam, het Dinsdag met George Herald gesels oor Sylvester en hoe sy ontydige dood hulle diep geskok het.
'n Gebroke ma
"Dit was so bitter moeilik om my Sylvester daar agter te laat. Dit het gevoel ek los my kind in 'n vreemde plek," het Uithaler se ma, Letrisa, gesê nadat sy haar seun in Groote Schuur moes groet.
"Ek wou net by hom bly, ek wou hom net vashou en by hom sit.
"Ek kon nie weg nie. Dit was bitter, bitter om my kind daar te los. Ek is nie meer kwaad nie, maar ek verstaan nie hoekom iemand 'n ander ma se kind só kon seermaak nie," het sy vandeesweek gesê.
'n Vriend van Uithaler, Renaldo November, wys na die plek waar die voorval plaasgevind het.
In die hof
Die verdagtes tussen die ouderdomme van 18 en 56, Robin Gordon, Aisha Saaiman, Jaydan, Danelle, Legan en Shamila Canary, het laat Vrydagmiddag, 3 November, hul eerste hofverskyning gemaak.
Die saak is uitgestel tot Februarie aanstaande jaar ná die groep se borgtogaansoeke, wat óók Vrydag plaasgevind het, suksesvol was.
Vir Letrisa, haar man Adam, en hul dogter Alisha, is dit uiters moeilik om te aanvaar wat gebeur het.
"Ons hoop en glo dat geregtigheid sal geskied, maar my hart pyn want ek weet watter tipe mens my Sylvester was. Hy het vir almal gekeer as die ander hulle wou seermaak. Hy het uit sy pad gegaan om mense te help. Ek het nie woorde nie. Hy was lief vir sy gemeenskap, hy was lief vir Pacaltsdorp. Hy was 'n goeie mens wat uit sy diepste hart omgegee het vir sy medemens," het sy ma gesê.
'n Roudiens word 19:00 op Vrydagaand, 10 November, by die Uithalers se huis in Missionstraat gehou.
Ondersteunende lede van die Pacaltsdorp-gemeenskap saam met die Uithaler gesin Dinsdag tydens George Herald se besoek.
Gemeenskap spreek hul misnoeë uit
Sedert die inhegtenisname en skielike vrylating op borgtog van die beskuldigdes, het die Pacaltsdorp-gemeenskap, onder
leiding van hul gemeenskapspolisiërings-forum (GPF) se voorsitter, Charly Daman, reeds 'n byeenkoms by die parkie, waar Uithaler so wreed aangerand is, gehou. Sowat 300 mense het Maandagaand vergader en hul misnoeë uitgespreek.
Almal is dit eens dat onregverdigheid en geweld van enige soort nie in Pacaltsdorp geduld gaan word nie.
"As die GPF-voorsitter wat deur die gemeenskap gekies is, was ek van die begin af by die voorval betrokke. Dit is vir my 'n groot terugslag en ek sien die krete uit ons gemeenskap. Ons regstelsel het ons gefaal. Die aanranding was so ernstig dat enigiemand sou kon sien dat hy dit nie gaan maak nie - hy was basies reeds dood. Hoekom is die verdagtes vrygelaat?
"Ons as die GPF voel dat die beskuldigdes vir moord in hegtenis geneem moet word en in aanhouding moet bly soos in Maximilian Reimann se saak van verlede jaar. Nie dat ons Max se saak as minderwaardig beskou nie, maar dié is baie erger - Sylvester is dóód en die beskuldigdes loop in ons strate rond. Ons wag vir antwoorde," sê Daman.
'n Media navraag is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur. Kommentaar word eersdaags verwag.
Renaldo November wys na die plek in die parkie waar die aanval plaasgevind het. Foto's: Kristy Kolberg
Reimann se saak binnekort op verhoor
Intussen begin die verhoor van die sewe beskuldigdes wat daarvan aangekla word dat hulle in Augustus 2022 vir Maximilian Reimann (21) van Harmony Park aangeval en ernstig aangerand het, op Woensdag 29 November in die George-streekhof.
Al sewe beskuldigdes se borgtogaansoeke is verlede jaar geweier en hulle is sedert hulle inhegtenisname kort ná die voorval, in aanhouding.
Reimann is Saterdag 27 Augustus 2022, deur 'n groep mans in Missionstraat, Pacaltsdorp, aangeval.
'n Verbyganger het hom later die oggend gekry waar hy langs die pad gelê het. Hy was hipotermies en het ernstige beserings aan sy gesig gehad en sy klere is van sy lyf af geskeur. Hy is na die hospitaal gehaas en het later 'n rekonstruktiewe gesigoperasie in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ondergaan.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’