GEORGE NUUS - 'n Man van Pacaltsdorp, Sylvester Uithaler (33), wat verlede week ernstig aangerand en vir dood gelos is deur 'n groep mense op die vlakkie tussen Mission-, Lammervanger- en Reierstrate, veg tans om sy lewe in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad.
Die man se ouers, wat vroeër die week die hospitaal besoek het, was teen druktyd nie bereid om enige kommentaar oor hul seun se toestand of die voorval te lewer nie, maar volgens 'n bron was die man steeds in 'n koma ná die aanval, wat glo boendoehof-verwant is, op Sondag 21 Oktober.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, word 'n saak van ernstige aanranding sowel as 'n saak van poging tot moord ondersoek.
"Die ondersoek dui aan dat die slagoffer die oop stuk veld oorgesteek het toe hy deur die groep aangerand is. Die polisie is op Maandag 23 Oktober na die George-hospitaal ontbied waar die slagoffer met veelvuldige steekwonde gevind is. Hy is later na 'n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas vir verdere mediese sorg. Die ondersoek is in 'n gevorderde stadium," het Spies gesê.
Uithaler is glo tussen 17:00 en 18:00 deur die groep genader en aangerand terwyl hy en 'n vriend gestaan en gesels het.
"Een het hom glo vasgegryp waarna 'n ander hom met 'n mes in sy sitvlak gesteek het. Toe hy neerval het 'n ander hom glo herhaaldelik in die sy en sitvlak gesteek terwyl ander op sy kop getrap het," het die bron gesê.
Teen druktyd is daar nog geen verdagtes in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’