STREEKSNUUS - Die bekende Suid-Afrikaanse sangeres, Petronel Baard, sterk tans aan in die George-hospitaal nadat sy Saterdag, 17 Julie om ongeveer 9:30 in 'n ernstige motorbotsing betrokke was op die N2.
Die kop-aan-kop botsing het ongeveer 10km buite Riversdal, in die rigting van Albertinia plaasgevind.
Baard was volgens bewerings vir byna 'n uur vasgekeer in haar motor en moes reddingswerkers meganiese kake gebruik om haar uit die wrak te sny. Sy was glo onderweg vanaf Gordonsbaai na Reebok buite Mosselbaai, waar haar ouers woon.
Baard het glo reeds 'n knie-operasie ondergaan en word ook vir beserings aan haar arm en skouer behandel. Baard sal vir eers nie klavier kan speel nie, maar sy sal beslis kan sing volgens berige in 'n dagblad.
Volgens A/o Morné D’Emiljo, media-skakelbeampte van Riversdal Polisie het twee insittendes van die ander motor wat betrokke was in die botsing, minder ernstige beserings opgedoen.
Artikel verskaf deur die Suid-Kaap Forum, susterkoerant van die George Herald.