GEORGE NUUS - Nie eers die asemrowende uitsig op die Outeniquaberge by die George-rolbalklub kon die afgelope paar dae deelnemers aan die 2024 Perfect Delivery Inter district B, se aandag en konsentrasie aftrek nie.
Dit is een van die grootste rolbaltoernooie in Suid-Afrika en word beslis op die bane van die Outeniqua-rolbalklub, Hartenbos-rolbalklub en Mosselbaai-rolbalklub.
Die toernooi het Maandag 4 Maart afgeskop en bereik môre, Vrydag 8 Maart, 'n hoogtepunt wanneer die eindstryd op die bane van die Outeniqua-rolbalklub plaasvind. Die eindstryd vir die dames en die mans begin om 14:00.
Daar is altesaam 20 distrikte van al nege provinsies en die meer as 300 spelers, mans en vroue, kom vanoor Suid-Afrika.
Onder die spelers en beamptes is verteenwoordigers van onder meer WP, Limpopo, Mpumalanga, Boland, Grens, Gauteng en Port Natal.
Dit is 'n jaarlikse geleentheid en van die beste rolspelers in die streke se B-spanne is in aksie.
Die kompetisie vind op 'n rotasiebasis plaas.
Onder die toeskouers Maandag was die oudste aktiewe rolbalspeler in Suid-Afrika, Johan Havenga (98) van Pretoria. Hy het nog tot verlede jaar in George gewoon en het sedertdien na sy kinders in Pretoria verhuis. In die verlede was hy onder meer president van die George-rolbalklub.
Penny Dempsey van die reëlingskomitee het Maandag, enkele ure nadat die eerste balle gerol is, gesê die weer is fantasties. Daar is geen wind en dis 'n pluspunt. "Puik rolbal word gespeel."
Moreoggend, 8 Maart word die laaste uitspeelrondes gespeel en die middag die finale. Dempsey het mense genooi om die eindstryd by te woon. Toegang is gratis.
Havenga het gesê die standaard by die toernooi is goed. Hy speel nog vier keer per week en het juis verlede naweek weer gespeel. Hy geniet die rolbal. "Rolbal is my tweede familie."
Volgens hom is dit 'n spel waaraan jonk en oud kan deelneem. Hy het eers op 78-jarige ouderdom begin speel.
Vlam Basson, die perkemeester van die klub, het gesê dis 'n uitdaging om die bane voor te berei. Hy en sy span het al in Desember begin met die voorbereiding van die bane, wat tans in die beste toestand ooit is.
Hy speel al van 1987 rolbal. Basson het voorheen op SA Rolbal se komitee gedien wat perke (bane) moes inspekteer.
Gerrit van Milligen, president van WP-rolbal en bestuurder van die WP-span, het gesê vir sommige van die spelers is dit die eerste keer dat hulle hul provinsie verteenwoordig. "Hier is talent."
Hy het gesê rolbal is besig om 'n verjonging te ondergaan en die sport het 'n blink toekoms. Hy glo die sport is meer gewild as wat die geaffilieerde syfers by klubs wys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’