GEORGE NUUS - Rina Dill bereik op 24 Desember 'n besondere en geseënde mylpaal wanneer sy haar 100ste verjaarsdag vier.
Dill (gebore Bierman) is die oudste inwoner van die Kraaibosch versorgende bystanddiens-afdeling. Sy is in Vredendal gebore en is een van sewe kinders waarvan drie nog leef.
Na haar skoolopleiding by die Hoërskool Vanrhynsdorp het sy haar as onderwyseres aan die Wellington Onderwyskollege bekwaam en verskeie onderwysposte beklee.
Sy ontmoet Aldert Dill in Graafwater en hulle is in 1947 getroud. Na die geboorte van hul eersteling, voel hulle geroepe om sendingwerk te gaan doen as deel van die Mashonaland-sending in die destydse Rhodesië, nou Zimbabwe. Nog drie kinders is daar gebore.
Rina het haar kinders, Petrusa, Aldert, Sarie en Hugo tuis onderrig (deur korrespondensie) totdat hulle vir graad 5 na 'n formele skool moes gaan. Sy het ook klasse in lewensvaardighede vir die plaaslike vroue op die sendingstasie gegee.
Na die egpaar se terugkeer na Suid-Afrika aan die einde van 1963, was hulle eers op Barkly-Wes en toe weer na Graafwater. Daar het sy weer onderwys gegee en was later koshuismoeder.
Haar man het bevordering geneem en verskeie poste by die destydse departement van onderwys en opleiding beklee, onder meer in Kaapstad, Mafeking, Caprivi en Pretoria tot en met sy aftrede in 1986.
Aldert sê sy ma was deur die jare betrokke by aksies in die kerk en Protea-aftreeoord in Pretoria. Sy het dit geniet om deel te neem in rolbal, kaartspel, Bybelstudie en sosiale bedrywighede.
Verder is oorsese reise aangepak voordat haar man in 1999 oorlede is. Sy het altyd 'n groot ondersteunende rol in haar man se lewe gespeel en was baie betrokke by die opvoeding en onderrig van haar vier kinders, 13 kleinkinders en 25 agterklein-kinders.
"Sy was en is steeds 'n voorbeeld, ware steunpilaar en waardige dame vir haar gesinslede, familie en vriende. Sy geniet nog goeie gesondheid al onthou sy nie meer al die klein- en agterkleinkinders se verjaarsdae nie," sê Aldert.
Rina Dill saam met haar vier kinders, Petrusa Nel (links voor), Sarie Smuts, Aldert (links agter) en Hugo.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'