GEORGE NUUS - 'n Passasier van die Go George-busdiens voer aan dat die gemeenskap van Reigerpark erg benadeel word deur die huidige stand van sake.
Volgens die klaer is daar geen bushalte met 'n skuiling vir passasiers wat in Beachweg vir die bus na Reigerpark wag nie. Soms is die bus vroeg, maar staan elders geparkeer en die busbestuurder laat niemand toe om in te klim nie.
"Dit gebeur soms dat mense in die reën staan en wag vir die paar minute tot vertrektyd, maar nie mag opklim nie," het die klaer gesê.
"Slegs 15 mense op 'n slag word vervoer, so heel dikwels moet 'n ma met kinders buite - soms in die reën en amper donker - staan en wag vir die bus om terug te keer. Dis onveilig, veral as sy al een is met 'n kind of twee wat staan en wag."
Die klaer beweer ook die busbestuurders is ongeskik en praat nie mooi met die passasiers nie.
Wat sê Go George?
In hul terugvoer noem die bestuur van Go George dat dit altyd makliker is om op klagtes te reageer waar besonderhede van die bepaalde klagte wat by die Go George-inbelsentrum aangemeld is, verskaf word.
Hulle voer aan dat die uitbreiding van die busdiens na die nuwe bedieningsarea naby Rosedale relatief nuut is.
"Soos gebruiklik met enige nuwe roetes of uitbreidings aan bestaande roetes, word passasiers se gebruikgewoontes gemonitor totdat die roete gestabiliseer het," lui hul terugvoer.
"Aangesien skuilings baie duur konstruksies is, word dit eers daarna opgerig en wel by bushaltes waar dit duidelik is dat 'n groot aantal passasiers gereeld wag om op die bus te klim."
Die res van hul terugvoer is as volg:
• Dit is nie duidelik of die bus waarna verwys word wel op die gemerkte bushalte staan en nie oopgemaak word vir passasiers om op te klim nie. Indien wel, is dit gedrag wat met die busbedryfsmaatskappy bespreek moet word. Dit is egter moontlik dat so 'n vroeë bus gebruik maak van tydhoudingshaltes (hierdie staanplekke is nie toegerus met verhoogde plaveisel soos die gewone bushaltes nie) om weer op skedule te kom.
Busdrywers mag passasiers slegs op 'n aangewese bushalte oplaai. Meer volledige inligting ten opsigte van hierdie klagte sal Go George in staat stel om die kwessie te ondersoek en aan te spreek.
Dit is wel belangrik om kennis te neem dat Go George 'n geskeduleerde busdiens is en dat busdrywers gemonitor word om op die geskeduleerde tye te vertrek, nie vroeër nie, en ook nie die 15 passasiers per minibus mag oorskry nie. Passasiers word versoek om die regulasie te respekteer en nie druk op die drywer te plaas om daarvan af te wyk nie.
• Die tipe bus wat op 'n roete gebruik word, word bepaal deur die toestand van paaie op die roete, asook aanvraag. Daarom word verskillende busse deur die loop van die dag op sekere roetes gebruik, omdat daar besige en minder besige tye is.
Dit is nie duidelik watter roete die klaer gebruik nie, aangesien verskeie roetes in daardie omgewing ry, maar dié area se paaie kan beslis nie groot busse akkommodeer nie en juis daarom is daar gedurende spitstyd elke 10 minute 'n bus.
Indien slegs 'n minibus op 'n bepaalde roete gebruik word weens die toestand van paaie, word die tydrooster so beplan dat daar meer ritte per uur, met ander woorde, korter op mekaar, sal wees tydens spitstye.
• Go George verwag dat buspersoneel en passasiers mekaar te alle tye met respek sal behandel. Voorvalle van ongewenste gedrag deur buspersoneel kan egter slegs ondersoek word met volledige besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'