Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Mini-drama het hom verlede Woensdagmiddag, 18 April, in Rosedale afgespeel, toe amptenary van grondbestuur probeer het om onwettige strukture af te breek.
Die strukture is halfgeboude houthutte wat in die Rosedale-plakkerskamp opgerig is.
Na bewering het 'n DA-raadslid, Dawid Willemse, beamptes van grondbestuur verbied om onwettige strukture af te breek.
Dit het glo ten aanskoue van inwoners plaasgevind. Die polisie se hulp is op 'n stadium ingeroep, maar die raadslid het blykbaar die polisie gevra om weg te gaan.
Volgens iemand wat op die toneel was, het die polisie te kenne gegee hulle gaan nie weer uitkom om te help nie, aangesien hulle net weer weggestuur word.
Volgens die ooggetuie het 'n man, 'n eienaar van 'n onwettige plakkershut, sy drie maande oue baba in die lug gehou en gedreig dat hy die baba sal laat val, indien sy hut afgebreek word.
Dit herinner sterk aan 'n soortgelyke insident wat enkele dae tevore in Port Elizabeth plaasgevind het, toe 'n man gedreig het om sy kleuter van 'n dak af te gooi. Hierdie beweringe is nie deur die polisie bevestig nie. Geen kommentaar van die polisie of raadslid Willemse is teen druktyd ontvang nie.
Die George-munisipaliteit se mediaskakel-beampte, Athane Scholtz, het die insident bevestig: "George-munisipaliteit bevestig dat daar 'n insident van onwettige besetting in die Rosedale-gebied was, waar daar interaksie tussen amptenare en sekere raadslede was," het sy gesê.
"Die kwessie word tans intern hanteer. Die munisipaliteit benadruk dat daar streng teen onwettige grondbesetting opgetree sal word."
Kyk 'n video hieronder.
Dawid Willemse
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'