GEORGE NUUS - Die geldkoffers vir die bou van 'n skuiling aan die onderpunt van Markstraat (naby George-stasie) begin voller raak, met sowat R150 000 wat nog vir 'n kombuis en ablusiegeriewe benodig word.
Volgens die voorsitter van 'n taakspan wat hulle toespits op haweloses, André Olivier, wag hulle tans op die onderverdeling van die erf en hersonering, wat deur George-munisipaliteit behartig word. "Ons het reeds 'n eerste konsep vir ons bouplanne, en die besigheidsplan is ingedien," het Olivier gesê.
Die waarnemende direkteur van beplanning, Charles Lubbe, het gesê 'n landmeter is aangestel. "Die onderverdelings- en hersoneringsproses sal ongeveer sewe tot nege maande duur. Dit is ook afhanklik van besware en appelle teen die hersonering. Ons sal egter ons bes doen om die proses te bespoedig."
Die taakspan bestaan onder meer uit verteenwoordigers van die provinsiale departement van gesondheid, justisie, die munisipale direktoraat gemeenskapsdienste, Sassa, Sanca en Cremhog (Christian rehabilitation ministry to homeless of George). Olivier is ook die projekkoördineerder van Cremhog.
Die relevante rolspelers vergader maandeliks, waartydens hulle inligting deel en hul databasis opbou. "Tans is daar tussen 80 en 130 mense in die George-omgewing wat op straat woon," het Olivier gesê. "Ons het gereelde uitreike om die mense se vertroue te bou, seker te maak hulle is werklik haweloos en om die onderskeie dienste bekend te stel."
Cremhog mik steeds om mense in Julie, of so spoedig daarna, in die skuiling op te neem. "Sodra die munisipale prosesse afgehandel is, is ons gereed om ons planne in te dien. Ons wil hulle in golwe van die straat afneem en 'n 100 dae program laat volg, waar hulle stapsgewys gerehabiliteer word en waartydens ons hulle help om vaardighede te ontwikkel. Dit is 'n proses, soos alles in die lewe. Ons is baie opgewonde oor die projek, ons kan werklik 'n groot impak maak," het Olivier gesê.
"Daar is baie mense wat goeie harte het, maar om net te gee is nie die antwoord nie."
Vir meer inligting oor die projek, kontak André Olivier by 082 551 8900 of Estelle Botha by George-munisipaliteit 044 802 2015. Om deel te wees van 'n WhatsApp-groep vir sakelui in die middedorp om kwessies oor haweloses te rapporteer, kontak die voorsitter van die George-gemeenskapspolisiëringsforum, Ronelle Bezuidenhout by 081 463 8461.
André Olivier, sameroeper van die George-taakspan vir haweloses, en projekkoördineerder van Cremhog. Foto: Michelle Pienaar
Lees vorige artikels:
- Halfweghuis vir haweloses 'n realiteit
- Halfweghuis vir haweloses in pyplyn
- Green light for homeless shelter
- Holistic plan for homeless proposed
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'