GEORGE NUUS - 'n Konstabel verbonde aan die speurtak van Pacaltsdorp-polisie, Ensliano Deyce (29), moet op 28 Junie sy volgende hofverskyning in die plaaslike landdroshof maak.
Dit volg ná hy op Woensdag 26 Mei op aanklagte van motordiefstal, bedrog en intimidasie in hegtenis geneem is. Hy is na sy inhegtenisname in George in aanhouding geplaas en het die volgende dag sy eerste verskyning in die hof gemaak.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, word daar beweer dat die verdagte die eienaar van 'n Mercedes-sedan in Thembalethu op Donderdag 20 Mei mislei en gedreig het, waarna hy glo die voertuig onder valse voorwendsels geneem het.
George Herald het Deyce gekontak vir kommentaar, maar hy wou nie veel sê nie. Hy het egter bygevoeg dat dit vir hom vreemd is dat hy van diefstal van sy eie voertuig beskuldig word.
"Ek het self ook 'n bedrogklag aanhangig gemaak oor die betrokke voertuig, nog voor ek in hegtenis geneem is. Sover my kennis strek, is daar nog geen aandag aan dié saak gegee nie.
"Wat die saak téén my betref, moet die ondersoek sy verloop neem en almal moet hulle bewyse maar hof toe bring," het hy bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'