GEORGE NUUS - Vinnige optrede deur 'n buurvrou het gesorg dat 'n inwoner van Denneoord haar gesteelde koperpot terugkry, alhoewel in 'n effe anderse vorm.
Gisteroggend omstreeks 09:00 het Edana Oberholzer van Ribbokstraat op die buurt se WhatsApp-groep vir misdaad laat blyk dat haar koperpot, wat rond en omtrent kniehoogte is, van haar stoep gesteel is.
Haar buurvrou Belinda Smit het dadelik AA Scrap Metal gekontak en gevra hulle moet op die uitkyk wees.
Twee ure later het die pot saam met 'n voornemende verkoper by die winkel opgedaag - plat soos 'n pannekoek.
"Dit is die eerste keer in die 26 jaar wat ons hier woon, wat so iets gebeur," het Oberholzer gesê.
"'n Mens wonder of dit werklik gaan help, maar ek gaan dit aanmeld. Dit help nie mens kla, maar doen niks nie. 'n Mens is wel bang dat jy nou skielik 'n teiken gaan word."
Hierdie koperpot het in twee ure 'n gedaanteverwisseling ondergaan. Dit is die eerste keer wat 'n item van die Oberholzer-gesin, wat al 26 jaar in Denneoord woon, se groot, oop erf gesteel is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'