GEORGE NEWS - Word wakker en plant bome vir die houtbedryf. Dit is die reaksie van dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukundige nadat George Herald verlede week, 15 Oktober, berig het oor die uitdagings waarmee die Tsitsikamma-gemeenskap oor die bosbedryf te doen kry.
Swartland Investments het vroeër gewaarsku dat die ekonomiese situasie van die Tsitsikamma-gemeenskap kan vererger as die MTO-groep voortgaan om sy houtstompe na die George-saagmeule te neem.
Hans Hanekom, hoof- uitvoerende beampte van Swartland Investments het gesê die gemeenskap is al reeds hard getref deur die 2017/18 brande en die impak van Covid-19.
Volgens Steenkamp het hy al talle kere in die verlede gewaarsku hier kom probleme vir die standhoudendheid van die bosbedryf in die Suid-Kaap. Hy was by talle vergaderings waar die aangeleentheid bespreek is. Hy vra dat die uitdagings vir eens en altyd aandag moet kry.
Weinig nuwe aanplantings het plaasgevind en daar word voete gesleep met heraanplantings. Volgens hom het heraanplantings na die brande net in die privaat sektor gebeur en lê alle staatsgrond steeds onbeplant. Die vraag na hout is daar en die saagmeulens is daar. Die streek word geassosieer met die houtbedryf. Die streek is 'n hoofprodusent van kwaliteit saaghout in die land.
As iets nie daadwerkliks gedoen word nie, gaan dit tot verdere werksverliese lei - direk en indirek, veral in die saagmeulbedryf wat 'n belangrike werkverskaffer is. Die houtbedryf in die streek gaan nog verder inkrimp.
Volgens Steenkamp het die grond die afgelope paar jaar van MTO teruggeval na die grondeienaar, die staat. Reeds 'n jaar gelede is met belanghebbendes vergader om die plantery aan die gang te kry (Sien George Herald 3 Oktober 2019) en niks het sedertdien gebeur nie.
"Die geleentheid om dit as 'n lopende onderneming te laat voortgaan is reeds gemis, maar dit blyk of daar geen dringendheid by die regering is om die ekonomie te herstel en werksgeleenthede wat verlore gegaan het weer terug te kry of om werksgeleenthede wat verlore gaan word, te voorkom nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'