GEORGE NUUS - Twee plaaslike skrywers het Donderdagaand, 16 November, in samewerking met Wordsworth Books hul boek, Saam in Suid-Afrika, by Mugg & Bean in die Garden Route Mall bekendgestel.
Pieter van Niekerk van Groot-Brak-rivier het 'n hart vir die armes en die uitgeworpenes en beskou die wyse waarop die wye verskeidenheid kulture in Suid-Afrika met mekaar oor die weg kom as 'n baie belangrike kwessie in ons land.
Hy het drie dekades van Christelike diens aan diesulkes agter die rug en werk tans aan sy tweede doktorsgraad.
Hy het dr. Chris Jones, wat in George grootgeword het en al jare betrokke is by die eenheid vir morele leierskap aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, genader om saam met hom hierdie boek te skryf.
Dr. Franklin Sonn, wat die eerste ambassadeur vir die demokratiese Suid-Afrika in die VSA was, het die boek aangeprys vir die raak uiteensetting en die wyse waarop die grondbeginsels wat in ons land geld, verduidelik word. Van Niekerk het gesê dat ons op die versoeningspad bereid moet wees om kaalvuis die waarheid te praat. Dit sou maklik wees om die ANC of president Zuma die blaam te gee vir alles wat verkeerd loop, maar ons situasie is nie so simplisties nie. Met die boek wou hy beklemtoon dat die erkenning van alle mense se waardigheid, oop gesprek en interafhanklikheid belangrik is in die versoeningsproses. In die konteks van die Christelike geloof is daar veel te sê oor die wyse waarop gelowiges uit verskillende agtergronde mekaar behoort te aanvaar en behoort saam te werk.
Die boek is in drie dele uiteengesit: in die eerste afdeling skryf Van Niekerk en Jones inleidend oor rassisme, post-apartheid Suid-Afrika en die waardes waarvolgens ons samelewing lewe; die tweede bevat vertellings van bekendes en onbekendes oor hul eie ervarings in hierdie verband; en derdens word raad vir ons land se eiesoortige situasie gegee.
Die gaste het nie op hulle laat wag toe hulle genooi is om tot die gesprek toe te tree nie en verskeie opinies is gelug, onder andere dat 'n morele kompas en basiese etiek die grondslag vorm waarvolgens herstel van verhoudinge in ons land kan plaasvind, dat versoening elke individu se verantwoordelikheid is en dat verskillende groeperings moet ophou skuil agter die omstandighede, kultuur en vooroordeel waarmee ons grootgeword het.
Die koor van die VG Kerk in Friemersheim het ook hulle bydrae tot die geleentheid gemaak met hul besondere sang.
Gaste luister aandagtig na die sprekers by die bekendstelling van die boek Saam in Suid-Afrika. Foto: Liryke Ferreira
ARTIKEL: LIRYKE FERREIRA, GEORGE HERALD-SUBREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'