Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Mense wat in die middedorp werk en van 16:30 af van die Go George-busdiens gebruik maak om huis toe te gaan, moes die afgelope twee maande noodgedwonge tot 18:00 by die sentrale terminaal in Cradockstraat wag.
Om 18:00 daag daar dan skielik 'n paar busse gelyktydig op om almal op te laai, volgens een van die gereelde passasiers, Jenetta Philander.
Toe dit Maandag (20 Februarie) reën en mense bedremmeld en koud in die lang toue staan en wag, het Philander besluit genoeg is genoeg.
Sy het George Herald Dinsdagoggend geskakel om haar ontevredenheid te deel. 'n Klagte is aan die munisipaliteit se kommunikasieafdeling gestuur.
Vanoggend, Woensdag 22 Februarie, het 'n baie tevrede Philander laat weet dat daar Dinsdagmiddag 'n "wonderwerk" gebeur het en dat verskeie busse met kort tussenposes van vroeg voor 18:00 by die terminaal opgedaag het om die mense op te laai.
Sy sê mense wonder wat die rede vir die vertragings was, ten spyte daarvan dat verskeie klagtes by Go George aangemeld is.
VIDEO: Verskaf
Go George se kommentaar word afgewag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'