GEORGE NUUS - Parkdene Sekondêr, 'n skool wat nie skoolfooie mag vra nie, is ten spyte van hierdie feit 'n vooruitstrewende skool wat poog om omstandighede vir sy leerders te verbeter.
Nie net is die vrouebadkamers onlangs uit eie inisiatief opgeknap teen 'n bedrag van R120 000 nie, maar elke klas het ook hoëspoed-internet gekry wat 'n nuwe wêreld en moontlikhede vir leerders laat oopgaan het. En dit sonder regeringsfondse.
Skoolhoof Derick Petersen sê voor die opknappingsprojek aan die badkamers gedoen is, het van die dogters soms kom toestemming vra om huis te gaan omdat hulle nie kans gesien het om die geriewe by die skool te gebruik nie.
"Dit was in 'n haglike toestand. Ons moes iets doen en met dié dat dit Vrouemaand is, wou ons dit voor die einde van Augustus voltooi om daardeur die vroulike geslag in ons skool te eer."
Tydens die opknappings.
Hy sê die projek sou nie moontlik gewees het sonder die bydraes van oudleerders, ouers en besigheid nie. Dit het betaal vir die projek. Die beheerliggaam het sonder aarseling toestemming gegee en die groen lig van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het die skool toegelaat om die inisiatief werklikheid te maak.
"Ons beheerliggaam bestaan grootliks uit oudleerders. Hulle is leiers wat die belange van die gemeenskap eerste stel."
Twee oudleerders, Elton October en Dimitri Jonas, het groot kontantbydraes gemaak.
Petersen is ook opgewonde oor die verkryging van hoëspoed-internet vir elk klas.
"Die departement het dit goedgekeur en het ook kundiges beskikbaar gestel wat onderwysers en ouers opleiding gegee het om aanlynlesse aan te bied. Dit verander die spel vir die kinders totaal."
Hy sê Parkdene kan nou inskakel op aanlynklasse van skole soos Waterkloof of Paarl Boys High.
"Dit gee ons skool toegang tot ander skole se bronne en ek voorspel dat ons dit in ons leerders se uitslae gaan sien, selfs ten spyte van die effek wat inperkings op skooltyd gehad het."
Als is vars en nuut.
Die nuwe badkamers was om die vroulike geslag van Parkdene Sekondêr gedurende Vrouemaand te eer.
Die opgeknapte vrouebadkamers by Parkdene Sekondêr was 'n radikale transformasie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'