GEORGE NUUS - Twee inwoners van Parkdene, wat keelvol is vir 'n vullishoop op hul drumpels, het besluit 'n gemeenskapstuin is moontlik 'n oplossing om te keer dat mense die oop stuk grond in hul straat as stortingsplek gebruik.
Sammy Vorster en Afrika Jansen van Mainweg se plan werk al klaar, want daar is nog nie weer vullis afgelaai sedert die grond gedeeltelik omhein is en voorbereiding van die grond vir 'n groentetuin begin is nie.
Benewens om bietjie groente vir eie gebruik te oes, beoog Jansen se vrou, Elsa, ook 'n sopkombuis waarmee sy die omliggende gemeenskap wil bedien waar daar groot nood is. Almal in die omgewing word genooi om te help plant en betrokke te raak.
Afrika se seun slaap in 'n klein hut in die een hoek op die grond om te hoor as mense snags met hul voertuie daar stop om vullis af te gooi.
George Herald het al meer as een keer berig oor die stryd teen onwettige storting op dié spesifieke hoek. Inwoners het 'n permanente vullishoop onder hul neuse gehad, want sodra die munisipaliteit die vullis verwyder het, het die storting van voor af begin.
Volgens Elsa het mense selfs dooie diere daar kom gooi. "Dit was 'n groot gesondheidsgevaar, dit het vieslik gelyk en geruik, en daar is nie veel aan die situasie te doen nie. Die kinders het hier gespeel. Ons was moedeloos."
Vorster sê die George-munisipaliteit spandeer miljoene op die skoonmaak van onwettige vullishope. "Ons verwelkom dit dat Afrika verantwoordelikheid neem om die grond te begin bewerk. Ons was skaam om kuiermense te ontvang, want hulle moes verby die vullishoop om by ons uit te kom. Dit het gelyk asof ons glad nie omgee hoe ons omgewing lyk nie."
Vorster het gesê daar word 'n taamlike hoeveelheid grond benodig om 'n groot sloot op die eiendom op te vul.
Skenkings van sade of groenteplantjies sal ook baie welkom wees.
Mense wat betrokke wil raak, kan Sammy Vorster bel by 078 703 1020.
Sammy Vorster en Elsa Jansen op die grond waar onwettige storting stopgesit is. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'