GEORGE NUUS - Die voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF), Charly Daman, is Saterdag-oggend, 16 April, omstreeks 08:30 glo te lyf gegaan terwyl hy besig was om te help met 'n arrestasie in Rosedale-plakkerskamp.
Volgens Godfrey Felix, Pacaltsdorp-GPF se media- verteenwoordiger, was Daman en 'n buurtwaglid besig om 'n lid van die polisie tydens 'n arrestasie by te staan toe die voorval plaasgevind het.
"Die verdagte, wat gesoek word vir verskeie misdrywe waaronder huisbraak en diefstal, het al 'n hangende lasbrief sedert Augustus verlede jaar teen hom. Tydens die arrestasie naby die verdagte se woning het 'n vrou oproerig geraak en bakstene begin gooi," sê hy.
Een van die stene het Daman teen die bors getref.
"Daman was nog besig om aan die passasierskant van die voertuig in te klim en die ruit oop te draai toe 'n mansvriend van die vrou wat die stene gegooi het, hom na bewering met 'n oophand teen die gesig klap. Hy het beserings aan sy gesig opgedoen," vertel Felix.
Klagtes van onder andere ernstige aanranding en opsetlike saakbeskadiging, is by die Pacaltsdorp-polisie aangemeld. Die twee verdagtes is die volgende dag in hegtenis geneem en was geskeduleer om Dinsdag 19 April in die George-landdroshof te verskyn. Die saak het egter nie op die hofrol verskyn nie.
Die Pacaltsdorp-GPF doen 'n ernstige beroep op inwoners om hulle te weerhou van enige vorm van geweld en kru taal teenoor polisiebeamptes, GPF- en buurtwaglede. Die voorval kom in 'n tyd waar die polisie, GPF en buurtwagte besig is om beter verhoudings met die gemeenskap te bou deur uit te reik na die gemeenskap.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'