Tyweneeshia, 'n gr. 3-leerder van Heidedal Primêr, Amoré Piedt (16), Roché Bantom (17) en Tersia Carelse (14), almal leerders aan Parkdene Hoërskool, het in een kamer geslaap toe die brand na middernag by hul huis in Spandielstraat uitgebreek het. Hulle word behandel vir rookinaseming.
Tyweneeshia en Tersia het begin bloei, het die familie Maandag aan die George Herald gesê. Tersia sou na verwagting gister ook na die Rooikruis-kinderhospitaal gevlieg word. Roché is intussen uit die hoësorgeenheid na die 'n gewone saal geskuif, maar Amoré is steeds in die hoësorgeenheid.
Ocktavius Piedt (27), Tyweneeshia se pa en Amoré se broer, vertel dat hy omstreeks 00:30 wakker geskrik het weens die "dik swart rook". Sy drievertrekhouthuis, was agter die tweevertrek steenhuis aangebou.
"Toe ek buite kom sien ek die vlamme op die dak en hoor net hoe Amoré, wat aan die kamervenster se diefwering gehang het, skree vir hulp. Ek het die venster uitgeslaan en na die voordeur gehardloop en daar ook die glas stukkend geslaan om die rook te laat uitkom. Ek het gesukkel om die deur oop te kry," sê Piedt. Sy ma, Hester en twee ander susters, Natalia (29) en Helga (23) was ook in die steenhuis, maar is ongedeerd.
Volgens hom was die rook in die huis so erg hy kon niks sien nie en het self duiselig geraak. Hy is toe weer na buite en het 'n wit lap gevat en dit bokant sy kop geswaai om die rook voor hom weg te waai toe hy weer ingaan.
Teen dié tyd was Amoré se stem stil en het hy niks meer gehoor nie. Op die beddens waar die kinders gelê het kon hy en 'n polisieman wat hom kom help het, niks voel nie.
Klein Tyweneeshia is onder een van die beddens gevind waar sy vermoedelik skuiling gaan soek het, Amoré en Tersia op die vloer teen die kas en Roché voor die badkamer. Almal was bewusteloos en is in 'n kritieke toestand na die hospitaal gehaas.
'n Gemeenskapleier Clive Scheepers wat die gesin bystaan, was Maandagmiddag saam met die ouers by die George-munisipaliteit om te reël vir noodbehuising. Dinsdag is twee sinkstrukture op die erf opgerig.
Behalwe die besittings wat deur die brand verwoes is, is dié wat hulle kon red gedurende die oggend toe alles nog baie deurmekaar was, deur verbygangers gesteel.
Die familie het op 'n vraag oor hoe die brand ontstaan het gesê hulle vermoed iemand, wat bekend is aan hulle, het in 'n vervalle buitetoilet op die erf, langs die aangeboude gedeelte, vuurgemaak en dat die vlamme tot by die houthuis versprei het.
Die polisie ondersoek die voorval.
Indien enigiemand skenkings van klere, kos of meubels aan die gesin wil maak, kan hulle Scheepers by 071 841 3080 skakel.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Gemeenskapsleier Clive Scheepers (regs) en mev. Hester Piedt se verloofde, Stephanus du Plessis. Agter hulle lê die puin nadat die houtstrukstuur in die brand verwoes is. Die vervalle buitetoilet van steen is ook in die agtergrond. Foto's: Lizette da Silva
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'