GEORGE NUUS - Karen Pieterse, 'n Afrikaans onderwyser by Pacaltsdorp Sekondêre Skool (PSS), het nog altyd 'n liefde vir skryf gehad. Die gogga het haar egter vanjaar in April behoorlik gebyt en sy het die laaste drie jaar van haar lewe in 'n digbundel gestort.
Haar bundel, Die eenvoudige ek, het einde verlede week van Malherbe Uitgewers in KwaZulu-Natal gekom.
"My bundel gaan oor die soeke en vind van jouself. Dit gaan oor persoonlike groei en die besef daarvan. Hierdie gedigte is vir almal. Dit is nie nodig om expensive te raak met jou woorde nie. Mense moet dit verstaan," het Pieterse gesê.
Na haar dogter se geboorte het Pieterse deur 'n tyd gegaan waar sy moes leer om ma, dogter, student en vriendin te wees - alles in een. "Die een ding op die ander het gebeur. Dit is alles net genade," het sy gesê. "Na my besef so drie jaar gelede oor waarheen ek wil gaan, het die woorde net begin vloei." Volgens Pieterse doen die atmosfeer by haar werk, PSS, haar baie goed. "Dit is hier wat ek weer myself gevind het, in die stilte van die skoolkoshuis," het sy gesê.
Pieterse se studente het dikwels ook as inspirasie vir haar digkuns gedien. "Hulle is vreeslik trots op my bundel. Minstens vier van my gedigte is deur die graad 12's geïnspireer," het sy gesê. Haar bundel van 39 gedigte het elkeen 'n verhaal, 'n storie van haar persoonlike reis. "Met Covid het alles soms gevoel soos 'n wedloop tussen vier mure," het Pieterse gesê.
"Om te skryf bring perspektief. Dit bring ontlading. Daar was oggende wat ek 03:00 wakker skrik en dan gryp vir 'n pen. Ek weet 'n gedig is iets werd as my hart vinniger begin klop. Dan weet ek dis nie net woorde op papier nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'