GEORGE NUUS - Die George-hospitaal, in samewerking met Pacaltsdorp-kliniek het Maandag 7 Augustus tydens wêreldborsvoedingweek 'n borsvoedingsondersteuningsgroep, wat uit vrywilligers bestaan, aan die gemeenskap bekend gestel.
Sr. Alison Jacobs, koördineerder van die ma en baba vriendelike inisiatief van die George-hospitaal, sê: "Die doel was om 'n ondersteuningsgroep van vrywilligers in die gemeenskap te stig wat proaktief borsvoedende vroue in hul gemeenskap kan help."
Jacobs moedig moeders aan om hul babas te borsvoed, aangesien dit voeding verskaf wat noodsaaklik is vir groei, gesondheid en ontwikkeling. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is 37% van sterftes by kinders onder vyf jaar as gevolg van wanvoeding.
Indien babas vir die eerste ses maande na geboorte geborsvoed word, sal hierdie sterftes met 13% verminder. Pacaltsdorp is gekies as loodsprojek, want baie babas wat by George-hospitaal gebore word is van die area, en baie tienerswangerskappe kom in die gemeenskap voor.
Volgens Jacobs is die langtermyndoelwit om na ander gemeenskappe uit te brei. Die vrywilligers het 'n boersvoedingskursus voltooi, en doeltreffende opleiding ondergaan.
Enige vroue wat hulp van die borsvoedingsondersteuningsgroep verlang kan weeksdae tussen 08:00 en 14:00 na Siyabonga-gemeenskapsentrum, in Sectionstraat, Pacaltsdorp gaan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'