Dié groep, die uitvoerende komitee van die Pacaltsdorp Besorgde Inwoners Vereniging, het Patel van verskeie wanpraktyke beskuldig. Dit sou insluit dat hy die indruk skep sy sentrum bied gratis dienste, maar dan moet mense fooie betaal, en dat hy in ‘n hoedanigheid optree waarvoor hy nie bevoeg is nie.
"Ons verneem dat mense hierdie man voortdurend betaal en dat hulle in verskeie sake geen resultate of antwoorde kry nie," sê mnr. Virgill Gericke, voorsitter van die vereniging wat as mondstuk tydens hul besoek opgetree het. "Ons sit op nog dokumente en bewyse wat ons nie nou al wil bekend maak nie, maar wil die gemeenskap bewus maak sodat hulle hulle nie laat indoen nie."
Mnr. Patel was duidelik ontsteld deur die aantygings teen hom. Sy vrou, Elsabe, sy sektretaresse, me. Claire Kleinhans en twee vriende het op die onderhoud met die George Herald ingesit. "Hoe ironies dat ek wat iets vir die gemeenskap doen, besmeer word? Ek laaik om mense te help. Wie is hierdie kamstige ontevrede mense en hoekom kom sien hulle my nie? Dis ‘n bloederige smering op my!"
Daar was ook agterdog jeens Somaliërs wat mnr. Patel gereeld sou besoek het. Twee van die klaers, mnre. Eglowh Johnson en Willem Speelman, wat sê dat hulle tot onlangs nog vir mnr. Patel gewerk het, wou hulle nou in die publiek van hom distansieer. "Wanneer die Somaliërs by hom is, moet ons wat vir hom werk, buite wag. Hy praat hulle taal," vertel mnr. Johnson. Mnr. Patel, wat sê dat hy Afrikaans grootgeword het, het bevestig dat hy verskeie tale magtig is, onder meer Urdu en Arabies. "Hier was net twee Somaliërs vandat ons oopgemaak het en hulle wou ‘n winkel in Syferfontein opsit. Wat mnr. Johnson aanbetref, ek het vir hom en sy vrou en kind gratis herberg gegee en mnr. Speelman het daagliks hier geëet." Hy het ontken dat hulle ooit vir hom gewerk het. Oor navrae hoekom die Gemeenskapspolisieforum (GPF) se bakkie gereeld by Patel se kantore gesien word, het hy gesê dat hy aan hulle petrolgeld gegee en vir bande gereël het.
Mnr. André Esterhuizen van Econo Tyres, ‘n vriend, het laat hoor: "Hierdie man doen backward flips om mense te help!" Hy het ten sterkste ontken dat hy ooit oproepe na ‘n kliënt gemaak het om namens mnr. Patel druk op hulle te plaas vir die betaling van ‘n fooi. "Dis ‘n spul tjol!"
Tydens die onderhoud is daar luidkeels in die voorkamer gebid deur ‘n groep ‘tevrede’ kliënte.
Artikel: Anoeschka von Meck
Lees 'n verwante artikel hier: http://www.georgeherald.com/news.aspx?id=1295
.jpg)
Lede van die Pacaltsdorp Besorgde Inwoners Vereniging. Voor in die middel is mnr. Virgill Gericke (voorsitter) met mnre. Riaan Muller (ondervoorsitter), en Clarion Stoffels (sekretaris). Agter van links is mnre. Eglowh Johnson en Willem Speelman, asook adv. Marilyn Olifant, regsadviseur.