GEORGE NUUS - Olievlekke en klippe in Pastoriestraat, Blanco, laat inwoners se hare rys. 'n Klaer wat in dié doodloopstraat woon is raadop met die toestand van die pad wat voor sy woonhuis verbyloop.
Volgens Eldret Canary het munisipale amptenare reeds verskeie kere besoek afgelê nadat hy die saak gerapporteer het.
"Een van die inwoners in die straat werk aan voertuie in die straat. Daar is gedurig oliekolle en merke op die teer. Hulle het dit al probeer skoonmaak, maar dit is 'n onbegonne taak," het Canary gesê.
Hy reken 'n verdere probleem is los gruis wat van die sypaadjie op die pad se ryoppervlakte beland. "Elke keer wanneer dit reën is die pad besaai met los klippies. Dit is 'n hengse probleem. 'n Paar van ons inwoners is ongelukkig oor die situasie. Ons is ook belastingbetalers en dit is nie reg dat ons hiermee opgeskeep sit nie."
Op 'n navraag van die George Herald het Debra Sauer, 'n munisipale mediaskakelbeampte, geantwoord dat die munisipale direktoraat vir siviele ingeneurswese en die wetstoepassingseenheid die perseel gaan besoek en aan die klaer terugvoer sal gee.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'