GEORGE NUUS - Die beroemde Kersliggies in Oewerstraat in Denneoord is nie vanjaar aangeskakel nie, maar as alles volgens plan verloop sal dit weer aanstaande jaar brand.
Die inwoners het tydens 'n vergadering eenparig besluit om weens die Covid-19-situasie nie vanjaar die liggies aan te skakel nie.
Gewoonlik is Oewerstraat aan die voet van die Outeniquaberge dié tyd van die jaar, een van die besigste strate in George. Dit is in die verlede in Desember elke aand in 'n sprokieswêreld omskep en het inwoners en besoekers van oor die land gelok.
Die liggies het al 'n tradisie geword en kom al 'n lang pad. Niel du Plessis, 'n inwoner van die straat, het die eerste keer in 2002 liggies aangebring. Sy pa-hulle het destyds toe hulle na Brenton-on-Sea by Knysna verhuis het, vir hom liggies gegee.
Du Plessis het die liggies by sy huis aangebring. Van die ander mense in die straat het dit raakgesien en ook liggies begin aanbring. Aanvanklik was alles op klein skaal, maar dit het oor die jare uitgebrei. Van die inwoners het Dinsdag gesê die besluit is geneem om besoekers en inwoners te beskerm.
Mense loop gewoonlik rond en kyk na die liggies. Dit sal moeilik wees om hulle tot hul motors te beperk. Die plan is om dit weer volgende jaar "baie groot" aan te bied.
Hulle is bewus dat mense teleurgesteld is. Hulle is ook teleurgesteld en mense moet in ag neem dat omstandighede vanjaar dit net nie moontlik maak om dit aan te bied nie.
Van die liggies by 'n huis in Oewerstraat in 2019. Foto: Michelle Pienaar
Liggiefees
Die George-munisipaliteit se jaarlikse liggiefees en die gepaardgaande aanskakelingsgeleentheid is ook afgestel. Dit is deur die munisipaliteit bevestig. Die besluit is geneem as gevolg van die Covid-19 situasie en beperkings op die begroting om die bestaande liggies te herstel of/en te vervang.
The Christmas lights in Oewer Street, Denneoord, that attract visitors from across the country every year, will not be switched on this year due to the Covid-19 pandemic.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'