Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Seuntjie van net 12 jaar oud, Zach Rauch-Legward van Pretoria het Saterdagoggend die harte van toeskouers by die jaarlikse Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) gesteel.
Rauch-Legward het die 10 km gewen en na die wedren het hy nie eers moeg gelyk nie. Hy het nog heerlik met toeskouers en die media oor die wedren gesels. Hy en sy pa, Geoff Legward, wat saam met hom op 'n gewone fiets gery het, het eers vroeg Vrydagaand in George aangekom. Net 'n paar uur later het hy deelgeneem.
Na die wedren het Zach gesê die wedren was eintlik maklik gewees. "Ek het dit geniet. Dit was nogal 'n goeie dag." Hy gaan beslis aanstaande jaar weer deelneem en is van plan om aan die 21,1 km deel te neem.
Dit was die 17de keer dat die OCC plaasgevind het. Die wedren is die eerste keer in 2002 aangebied en net 27 atlete het deelgeneem. Vanjaar se wedren het byna nie plaasgevind nie omdat daar onsekerheid oor borgskappe was.
Altesaam 463 mense het vanjaar deelgeneem waarvan 114 mededingend gery het. Benewens Suid-Afrika, was daar ook atlete van Zimbabwe en Ghana. Daar was wel minder atlete en toeskouers as verlede jaar, maar aan entoesiasme het dit nie ontbreek nie.
Vanjaar se geleentheid is Vrydagaand met 'n verwelkomingsboodskap deur George-burgemeester, Melvin Naik, afgeskop.
Saterdagoggend kort na 07:00 het die atlete by Race Village, Halfway Toyota in Knysnaweg vir die 42,2 km-item weggespring.
Van die deelnemers Saterdag by die OCC. Dit was 'n dag vol pret en plesier.
Onder die aanwesiges was Calvyn Hamman, senior visepresident verkope en bemarking van Toyota SA en Naik. Hamman het die wedren kom bywoon om self te kyk of Toyota nie moontlik aanstaande jaar as 'n borg by die wedren betrokke kan raak nie.
Die 42,2 km-wedren is deur Johan van Rensburg (34) van Benoni gewen. Dit was die eerste keer dat hy deelgeneem het. Volgens hom was die roete in die geheel gesien aangenaam. Hy het verlede jaar aan fietsry vir gestremdes begin deelneem. Hy is van voorneme om weer aanstaande jaar deel te neem.
Hamman het gesê hy het die geleentheid bygewoon om dit te evalueer met die moontlikheid om betrokke te raak as 'n borg/vennoot by die wedren. Internasionaal borg Toyota die Olimpiese spele en Para-limpiese spele. 'n Geleentheid soos die OCC kan goed inpas by Toyota se moontlike betrokkenheid.
"Vir ons is dit 'n fantastiese geleentheid en dit is beslis iets wat die moeite werd is om na te kyk."
Geen finale besluit is nog geneem nie. Alewijn Dippenaar, voorsitter van die reëlingskomitee, het Maandag gesê die geleentheid sal beslis aanstaande jaar weer plaasvind. Reëlings is reeds voluit aan die gang.
Lede van die George-stadsraad het Saterdag tyd van hul besige programme afgeknyp en deelnemers aan die OCC bygestaan. Agter, van links: Gerrit Pretorius, David Willemse, Edmund Bussack en Charlotte Clarke. Foto's: Eugene Gunning
Registrasie sal op 14 Februarie plaasvind en die geleentheid op 15 Februarie. Volgens hom was daar vanjaar wel minder deelnemers, maar dit was 'n sukses. "Dit het beteken daar was 463 super-gelukkige en tevrede deelnemers."
Hy het dit benadruk dat die geleentheid vanjaar bewys het dat daar baie ondersteuning is. Die OCC is al 'n instelling en moontlik sal meer deelnemers aanstaande jaar opdaag. Buiten die bestaande borge, is dit moontlik dat nuwe borge aanstaande jaar betrokke kan raak.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'