GEORGE NUUS - Nannie Joubert, 'n inwoner van Tuiniqua wat op 25 Februarie 99 jaar oud geword het, sprankel nog op 99.
"Ouma Nannie bly sprankelend en pragtig," sê haar kleindogter, Jeanine du Preez van George.
"Sy is altyd positief, liefdevol en vol deernis en in die grendeltyd waar baie mense depressief geraak het oor die afsondering, is sy die een wat sommer 'n tert bak om iemand op te beur. Sy lag altyd en bly besig. Sy is veral lief vir lees. Ek onthou hoe sy met ons gespeel het, tot met albasters op die grond. En sy word net nie moeg nie. Selfs die kleintjies se aandag word nog gevange gehou met haar helder klokkielag."
Op Joubert se verjaarsdag was vyf generasies bymekaar. Haar dogter, Elsie Meyer, kleindogter Jeanine du Preez, agterkleindogter Nicoline Schnetler en agter-agterkleinseun Günther Schnetler kon die heuglike dag met haar deel.
Die 99-jarige Nannie Joubert saam met haar dogter, Elsie Meyer (links), kleindogter Jeanine du Preez (regs van haar), agterkleindogter Nicoline Schnetler en agter-agterkleinseun Günther Schnetler.
Eloïse de Kock, nog 'n agterkleindogter, en Lexi de Kock, haar agter-agterklein-dogter het hulle gelukwensinge uit Nieu-Seeland gestuur, want hulle kon nie hier wees vir die partytjie nie.
Alani Voigt, hoof van Tuiniqua, sê Joubert is 'n baie geliefde inwoner. "Sy woon in ons semi-versorgingseenheid en dis ongelooflik dat sy op haar ouderdom nog so sterk is. Sy is 'n verskriklike sagte mens met 'n omgeehart en personeel en inwoners hier is deur die bank lief vir haar."
Eloïse de Kock, agterkleindogter, en Lexi de Kock, agter-agterkleindogter van Nannie Joubert het hul gelukwensinge uit Nieu-Seeland gestuur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'