GEORGE NUUS - George-munisipaliteit en die NSRI het vir die afgelope jaar en ‘n half in samewerking met Conville Primêr ‘n swem-oorlewingsprogram aangebied, in ‘n poging om verdrinkings te voorkom.
Luidens statistieke van die NSRI, verdrink ongeveer 1 484 mense elke jaar in Suid-Afrika, waarvan 450 kinders is. In heelwat van die gevalle waar mense oorleef, word hulle met gestremdhede gelaat.
Volgens Caville Abrahams, van NSRI, moet ‘n mens te alle tye bewus wees van die gevaar wat water inhou, ongeag ouderdom of ervaring.
Die doel van die program is om kinders wat glad nie kan swem nie, te leer om hulself te help wanneer hulle in gevaar is, naby of in die water. Die program is ook daarop gemik om kinders gemaklik te maak rondom water.
Indien ‘n kind per ongeluk in die water val, moet die kind hom/haarself uit die moeilikheid kan help.
Volgens Abrahams bestaan die program uit vier kategorieë naamlik: asembeheer, oriëntasie, dryf en beweging na veiligheid.
As al hierdie komponente saamgevoeg en suksesvol aangeleer is, kan die kind vir meer as 5 m tot by veiligheid beweeg of hom/haarself bo die water hou totdat hulp opdaag.
Die program is in 13 lesplanne opgedeel, met 48 studente wat tans daarvan deel is. Die program het in Oktober verlede jaar begin en het tot Mei vanjaar gestrek. Sewentien leerders van Conville Primêr het die kursus suksesvol voltooi. George-sportafdeling beoog om meer kinders oor die volgende paar jaar bekend te stel aan die program in verskeie gemeenskappe en skole in George.
Brendon Adams, wyksraadslid van wyk 17 en portefeuljeraadslid van sport, het gesê hy is baie trots om so ‘n program in sy wyk te kan hê. “Dit is fantasties dat hierdie programme in ons voorheen benadeelde gebiede uitgerol word.”
Granville Campher, bestuurder: Sport by George-munisipaliteit, sê waterveiligheidsprogramme is hulpmiddels om lewens te help red. “Maar onthou… ’n kind word nooit bestand teen verdrinking nie, hou altyd toesig oor kinders rondom water en skakel onmiddellik 112 in enige noodgeval.”
Campher het gesê die afdeling is van plan om die voetspoor van watersport in George te vergroot, sodat die gemeenskap bemagtig word en toegang tot die sport kan uitbrei. Daar is reeds samesprekings aan die gang met verskillende rolspelers om die moontlikheid van ‘n swemklub wat gebaseer is by die Conville-swembad te stig. Hierdie sal ‘n gulde geleentheid wees om kinders van ‘n jong ouderdom af blootstelling in die sport te gee.
Indien jy betrokke wil raak by hierdie projek en as vrywillige wil help, stuur ‘n e-pos aan Caville by caville@searescue.org.za.
Van Conville Primêr se leerders wat uitgeblink het in die kursus is voor, van links: Edwardo Jansen, Aden-John Jansen, Timothy Voster en Lenaldo Meyer. Agter hulle staan Carin Potts en Bronwyn Voster. Agter: Ainsley Kennedy (NSRI-instrukteur), Caville Abrahams (NSRI-instrukteur), Brendon Adams, portefeuljeraadslid van sport, Allen Paulse, direkteur: gemeenskapsdienste, Granville Campher, bestuurder van sport: George-munisipaliteit en Leveinia Botha (Sport).
Die leerders wat almal die kursus by die George-swembad in Conville suksesvol voltooi het, met Caville Abrahams (NSRI) en Leveinia Botha (voor) asook Granville Campher, bestuurder van sport: George-munisipaliteit, Allen Paulse, direkteur: gemeenskapsdienste en Brendon Adams, portefeuljeraadslid van sport na afloop van die program.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'