GEORGE NUUS - Ondanks 'n toename in inwoners en gevolglik meer ongevalle in George, is die kanse dat die George provinsiale ambulansvloot, Metro-ambulansdienste, binnekort aangevul gaan word, uiters skraal.
Dit kom ná 'n vrou (52) van Touwsranten, wat 'n beroerte gekry het, Sondag 30 Augustus vir meer as twee ure vir 'n ambulans moes wag.
Volgens die plaaslike radio-omroeper, Christo Gawie, het die pasiënt se paniekbevange buurvrou hom daardie oggend omstreeks 10:45 geskakel.
"Sy was desperaat vir hulp nadat sy reeds 'n geruime tyd vir mediese bystand gewag het. Ek het haar besonderhede geneem en dadelik die provinsiale ambulansdiens geskakel. 'n Uur later het dieselfde dame my weer gekontak en gesê dat daar steeds geen teken van 'n ambulans was nie.
"Ek het weer geskakel en omstreeks 13:00 het die ambulans by die dame opgedaag," vertel hy.
Gawie sê ook dat dit nie die eerste keer is wat iemand by hom kla oor die reaksiespoed van die provinsiale ambulansdiens nie.
"Dis onaanvaarbaar dat daar so met mense se lewens gespeel word. Ambulanse daag net nie op by sommige call-outs nie en as hulle doen is dit soms 'n uur of selfs twee na die oproep gemaak is. George se inwoners is moeg vir die treurige diens, verál wanneer dit kom by die ernstige oproepe," sê hy.
'n Woordvoerder van die departement van gesondheid, Deanna Bessick, het by navraag gesê daar was op die betrokke oomblik geen ambulanse beskikbaar nie en dat George nie in die naby toekoms nog ambulanse gaan ontvang om hul vloot te versterk nie.
"Ons vra om verskoning vir die ongerief, maar op die betrokke tyd was al ons ambulanse in George besig met ander voorvalle. Ons rekords wys ook dat ons daardie dag sowat 160 oproepe ontvang het.
"Ons is bewus van die groeiende bevolking in die gebied en die stadige, maar besliste toename in aanvraag op nooddienste en ons fokus voortdurend daarop om beter diens te lewer. Ongelukkig weens die huidige ekonomiese klimaat dwarsoor regeringsinstellings, word daar nie binnekort 'n toename in die aantal ambulanse in dié gebied [George-omgewing] verwag nie," sê sy.
'n Tekort aan finansies is die rede waarom George nie binnekort 'n toename in die aantal Metro-ambulanse kan verwag nie.Foto: Wikimedia Commons
Despite an increase in residents and the resulting casualties in George, chances that the George provincial ambulance fleet, Metro ambulance services, will receive more vehicles any time soon are extremely slim. This comes after a woman (52) from Touwsranten, who was suffering a stroke, had to wait for more than two hours for an ambulance on Sunday 30 August. Department of Health spokesperson, Deanna Bessick, said they are aware of the growing population and need of ambulances but finances do not allow for more ambulances at this stage.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'