GEORGE NUUS - ‘n Man in sy 20’s is gisteraand, Saterdag 31 Julie, in ‘n hospitaal in George dood nadat hy ernstige beserings in ‘n ongeluk in die Kaaimansrivierpas opgedoen het.
Sy identiteit is nog nie bekend nie.
Na verneem word het die ongeluk kort voor 18:00 plaasgevind.
Die man was blykbaar in ‘n motor in die rigting van Wilderness op pad toe hy van agter teen ‘n swaar vragmotor gebots het.
Die ongeluk het net anderkant die Far Hills Country Hotel op die N2 plaasgevind. Nooddienste, waaronder ER24, die brandweer en wetstoepassers, het hulle na die toneel gehaas.Die man het nog gelewe, maar was ernstig beseer.
Een van die verkeersbane was tydelik gesluit.
Die man is kort na sy aankoms by die hospital oorlede.
Sers. Chris Spies,polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die George-polisie het ‘n saak van strafbare mansslag geopen.
Inligting tot die polisie se beskikking dui daarop dat ‘n BMW voertuig omstreeks 17:45 teen ‘n Scania swaarvragmotor gebots het. Die bestuurder van die BMW het veelvuldige beserings opgedoen en is later by die hospital deur mediese personeel dood verklaar. Die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie.
Verdere inligting dui daarop dat beide voertuie van George in die rigting van Wilderness gery het toe die ongeluk gebeur het.
‘n Na-doodse ondersoek sal die komende week gedoen word om die oorsaak van die man se se dood vas te stel. Die ondersoek duur voort.
Meer besonderhede sal bekend gemaak word wanneer dit ontvang word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'