GEORGE NUUS - Die man wat vroeër die maand in 'n ernstig toestand gehospitaliseer is nadat hy na bewering kragkabels wou steel, is op 17 Junie oorlede.
Immeul van Rensburg (22) wou op 4 Junie na bewering kragkabels by 'n substasie in Beukesstraat, Europe, steel. 'n Inwoner het op die toneel aan die agterkant van Pacaltsdorp afgekom en die polisie en nooddienste gekontak.
Van Rensburg het later in die Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk.
Facebook-plasing deur familie vriend
Kort na sy dood het 'n familie vriend 'n hartroerende boodskap op Facebook geplaas. In die boodskap versoek die persoon ander om twee keer te dink voor hulle kommentaar op sosiale media lewer.
"Vanoggend sit ek hier met soveel woorde ek weet nie waar om te begin nie. My gebed is dat ek die regte woorde sal bring. Aan elke persoon wat kommentaar gelewer het, of by die huis of op kantoor die artikel gelees het en daar jou vinger gewys en mond uitgespoel het.
Wie is u, is u deur God aangestel om regter te wees?
Kom ek bring julle op hoogte, daardie jongman was my 'seun'. Hy was vir my seun soos 'n broer. Ja, hy het die kabels gaan steel. En ja, hy het gesterf soos hy geleef het, soos ons ook lees in die Bybel.
Ons harte is stukkend. Daar is geen manier om dit vir iemand te verduidelik nie.
"Dit voel vir my asof elke woord wat ek lees in daardie kommentaar-spasie [op George Herald se Facebook-blad] my vel lewendig van my afskeur en my hart uitmekaar ruk! Wat doen dit aan sy biologiese moeder as ek as sy 'ander ma' so voel....sy vriende en vriendinne wat saam met hom 'n pad gestap het?
Ja, hy was nie altyd op die regte pad nie, maar is u en ek totaal sonder sonde?"
Die persoon skryf dan verder oor Van Rensburg, wat hy vir hulle beteken het en brei meer uit oor sy lewe. Sy eindig af deur te skryf:
"Wat ek in hierdie skrywe vir u kom sê, mede-Georgiet, is dit is nie u seun, broer, neef of oom nie. Vir u was hy 'n dief. Vir ons is hy steeds ons seun, vriend en neef. Wat as hy u s'n [familielid] was? Sou u nog daardie woorde neerpen in 'n kommentaarblok op sosiale media?
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'