Update
GEORGE NUUS - Dis nie net die tolhuis wat geraak word deur die tydelike sluiting van die Montagupas nie, maar dit raak ook George-toerisme in die geheel. So het Ken Gie, waarnemende voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, Dinsdag gesê.
Hy het by navraag kommentaar gelewer oor hoe die tydelike sluiting van die pas die tolhuis raak. Dit het die tolhuis in die onlangse verlede erg geraak en daar was selfs sprake dat die tolhuis sou sluit.
In middel Januarie is daar besluit dat die tolhuis slegs Saterdae en Sondae van 08:00 tot 14:00 oop sal wees. Talle van die besoekers het Saterdag gevra dat die pas weer oopgestel word.
Christiaan Els van Hartbeespoort in Noordwes het daar met sy fiets gery.
"Die pas moet oopgemaak word. Al word die voertuie beperk wat daar ry - solank dit net oop is. Ek het dit al voorheen met 'n voertuig gery. Dis baie belangrik vir toerisme."
Nico Fourie, eienaar van Herold Wines, het Dinsdag gesê die aangeleentheid moet op die spits gedryf word. Hy voel dis 'n skreiende skande dat die pas gesluit is. Dis 'n nasionale monument. Sy onderneming lei daaronder en sy omset het met sowat 60% gedaal.
As hy die gewone pad, deur die Outeniquapas na George en terug gebruik, is dit 'n ompad van sowat 50 km. Deur die Montagupas is dit sowat 16 km.
Volgens Fourie is die pas in 'n baie slegte toestand en mens loop die gevaar dat jou voertuig beskadig kan word.
Struktureel lyk dit nie of daar fout is met die pas nie. Die padoppervlak is net in 'n baie slegte toestand.
Dr. Natie de Swardt, erfeniskundige en voorsitter van die Simon van der Stel Stigting: Suid-Kaap, het Dinsdag gesê dis baie belangrik dat die pas weer oopgestel word.
Dit speel uit op verskillende terreine waaronder ekonomiese voordele vir mense wat aan die anderkant van die berg is. Dit raak ook toerisme.
Hy het gewaarsku dat daar 'n kantelpunt kan kom waar dit onmoontlik gaan wees om dit te herstel.
Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het teen druktyd nie op George Herald se navraag gereageer nie. Dit sal gepubliseer word in die volgende uitgawe.
Vorige artikels:
- Tolhuis ontvang talle besoekers
- Tolhuis bly oop
- Maandag word oor die tolhuis besluit
- Kom drink koffie en eet pannekoek by die tolhuis
- Kommer neem toe oor Montagupas
- Sluiting van Montagupas raak sakeondernemings
- Tolhuis benadeel deur sluiting van pas
- George Erfenistrust is bekommerd oor Montagupas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’