GEORGE NUUS - Al moet belangrike besluite oor die toekoms van die historiese tolhuis in die Montagupas binnekort geneem word, is dit steeds 'n gewilde toeriste aantrekkingskrag. Inwoners en besoekers ry graag daarheen om koffie te drink en pannekoek te geniet.
D-dag is Maandag 15 Januarie. Vrae oor die toekoms van die tolhuis het in Desember ontstaan en daar is selfs gespekuleer dat die gebou, wat al meer as 170 jaar oud is, kan sluit. 'n Organisasie, Vriende van die Tolhuis, sien om na die belange van die tolhuis. Dis in 2009 gestig en die groot dryfkrag was Gerda Stols en haar man, Johan.
Restourasie het in 2009 begin en is voltooi in 2014. In Oktober 2018 is dit grotendeels in 'n brand verwoes maar daarna herstel.
Dit het oor die jare 'n gewilde besoekersplek geword. Besoekergetalle het egter verlede jaar met 80% gedaal. Die tydelike sluiting van die Montagupas is as een van die groot redes daarvoor aangevoer.
Die Vriende van die Tolhuis het in Desember vergader om oor die toekoms te besin. Daar is toe besluit dat die tolhuis tot in middel Januarie sal oopbly.
Dit beteken dat die tolhuis op die oomblik daagliks van 8:00 tot 14:00 besoek kan word.
'n Vergadering sal op 15 Januarie gehou word waar weer oor die toekoms besin sal word.
Ken Gie, waarnemende voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het tydens 'n besoek van die George Herald gesê tot dusver het hulle baie goeie reaksie ontvang. Dit is asof die plek meer gewild geword het. Mense wat in George woon bring hul familie en vriende.
"Ek dink nie die mense van George gaan toelaat die tolhuis sluit nie. Die reaksie van besoekers is positief."
Daar is steeds uitdagings soos om vrywilligers te kry om te help.
"Koffie en die lekkerste pannekoek is hier beskikbaar. Ek is hoopvol dat die tolhuis sal oopbly. Die pad moet reggemaak word."
Volgens Gie sal drie mense hul werk verloor as die tolhuis sluit.
*Mense wat wil help kan hom bel by 083 631 9648 of 'n e-pos stuur na giekenneth1@gmail.com.
Ken Gie, waarnemende voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, voor die historiese gebou.
Die afdraai na die tolhuis in die Montagupas. Foto's: Eugene Gunning
Die tolhuis in die Montagupas
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’