GEORGE NUUS - Die historiese tolhuis in die Montagupas gaan oop bly. Weliswaar nie meer elke dag nie, maar darem op Saterdae en Sondae.
Dié besluit is Maandagmiddag, 15 Januarie, tydens 'n komiteevergadering van die Vriende van die Tolhuis geneem. Die goeie nuus is deur Ken Gie, waarnemende voorsitter van die organisasie, bekendgemaak. Die organisasie sien om na die belange van die tolhuis.
Vrae oor die toekoms van die tolhuis het in Desember ontstaan en daar is selfs gespekuleer dat dit kan sluit.
Die gebou is meer as 170 jaar oud. Die tydelike sluiting van die Montagupas is as een van die groot redes aangevoer waarom besoekersgetalle verlede jaar kwaai gedaal het.
Gie het aan George Herald gesê al die opsies, waaronder moontlike sluiting, is Maandag bespreek. Uiteindelik is eenparig besluit dat die tolhuis voortaan op Saterdae en Sondae oop sal wees van 08:00 tot 14:00. Die nuwe reëlings is reeds van toepassing die komende naweek.
Rondom die datums van die George-oumotorskou in Februarie en Paasnaweek sal gekyk word of dit nie vir ekstra dae kan oop bly nie.
Die tolhuis is steeds oop vir die aanbied van funksies, maar belangstellendes moet betyds reëlings tref.
Gie het mense genooi om steeds betrokke te raak en het benadruk dat die tolhuis bestaan danksy die hulp van vrywilligers en donasies van die publiek. "Die tolhuis kan volhoubaar bedryf word as daar vrywilligers is."
Gie bedank die George-inwoners en besoekers aan die Tuinroete vir hulle ongelooflike ondersteuning gedurende die vakansie. Dit het beslis bygedra dat die tolhuis nog oop bly.
Mense wat wil help kan Gie bel by 083 631 9648 of 'n e-pos stuur na giekenneth1@gmail.com.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’