Update
GEORGE NUUS - Maandag, 15 Januarie is D-dag vir die toekoms van die tolhuis. Die komitee van die organisasie wat na die belange van die tolhuis omsien, Vriende van die Tolhuis, sal dan 'n besluit neem oor die toekoms van die historiese gebou in die Montagupas.
Die vraag wat gevra word is of die publiek steeds die tolhuis sal kan besoek.
Ken Gie, waarnemende voorsitter van die organisasie, het Maandag 8 Januarie bevestig dat hulle 'n besluit gaan neem.
Tydens die afgelope vakansietydperk was dit steeds 'n gewilde toeristebestemming. Inwoners en besoekers het graag daarheen gery om koffie te drink en pannekoek te geniet.
Vrae oor die toekoms van die tolhuis het in Desember ontstaan en daar is selfs gespekuleer dat die gebou, wat meer as 170 jaar oud is, kan sluit. Vriende van die Tolhuis is in 2009 gestig onder die dryfkrag van Gerda Stols en haar man, Johan.
Restourasie het in 2009 begin en is in 2014 voltooi. In Oktober 2018 is dit grotendeels in 'n brand verwoes maar weer daarna herstel. Dit het oor die jare 'n gewilde besoekersplek geword.
Besoekergetalle het egter verlede jaar met 80% gedaal. Die tydelike sluiting van die Montagupas is as een van die groot redes daarvoor aangevoer.
Die tolhuis in die Montagupas.
Die Vriende van die Tolhuis het in Desember vergader om oor die toekoms te besin en het besluit dat die tolhuis tot in middel Januarie sou oopbly. Die tolhuis is op die oomblik daagliks van 08:00 tot 14:00 oop.
Gie het vroeër gesê hulle het baie goeie reaksie ontvang nadat die jongste situasie duidelik geword het. Dit is asof die plek meer gewild geword het. Mense wat in George woon bring hul familie en vriende.
"Ek dink nie die mense van George gaan toelaat die tolhuis sluit nie. Die reaksie van besoekers is positief."
Daar is steeds uitdagings, soos om vrywilligers te kry om te help.
"Koffie en die lekkerste pannekoek is hier beskikbaar. Ek is hoopvol dat die tolhuis sal oopbly. Die pad moet reggemaak word."
Volgens Gie sal drie mense hul werk verloor as die tolhuis sluit.
*Mense wat wil help kan hom bel by 083 631 9648 of 'n e-pos stuur na giekenneth1@gmail.com.
Die afdraaipad na die tolhuis.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’