GEORGE NUUS - Ernstige kommer oor die toestand van die pragtige, historiese Montagupas is tydens 'n vergadering van die George Erfenistrust, verlede Woensdag, 26 April, uitgespreek.
Die pas is op plekke erg verspoel en is gesluit vir voertuie. Nieteenstaande die situasie is daar inwoners en besoekers wat tog die kans waag om die pas aan te durf. Tot by die historiese tolhuis is dit in 'n redelik begaanbare toestand.
Die sluiting van die pas raak reeds die tolhuis nadelig. Die tolhuis is aan die begin van die pas aan die suidekant. Die tolhuis is een van George se geskiedkundigste geboue en is reeds in 1845 gebou. Die Cradock-roete is reeds in 1812 gebou.
Die sluiting van die pas het ook 'n negatiewe impak op sakeondernemings en toeriste aantreklikhede in Herold hoog op in die berge aan die noordekant.
Tydens die George Erfenistrust vergadering is die aangeleentheid deeglik bespreek. Daar is op gewys dat die pas korrek herstel moet word om seker te maak dat hierdie erfenis en toerisme bate nie dieselfde pad as die Outeniqua Choo Tjoe-trein loop nie.
Willie-John van Niekerk, wat as voorsitter van die vergadering opgetree het, het Dinsdag 2 Mei bevestig dat die aangeleentheid onder die aandag van Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, gebring gaan word. Voorts ook onder die aandag van Patricia de Lille, nasionale minister van toerisme, Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport en Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur en ook DA-leier in die provinsie.
Van Niekerk het gesê dis nie uitgesluit dat Winde genooi sal word om die pas te besoek sodat hy self kan kom kyk nie.
"Dis 'n geskiedkundige en nasionale bate. Dit moet nie dieselfde verval loop as die Choo Tjoe-trein nie."
Volgens hom beteken die huidige situasie 'n verlies vir toerisme en mense in Herold wat gewoonlik daagliks van die pas gebruik maak.
"Dit moet dringend aandag kry. Iets moet gedoen word. Ons kan nie wag vir die reën nie."
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het gesê die sluiting van die pas raak die tolhuis nadelig.
Daar is verwarring en daar is beslis 'n afname in besoekers aan die tolhuis. Die tolhuis moes al van hul personeel aflê.
Sy het bevestig dat daar sprake van 'n petisie is waarin gevra sal word dat die aangeleentheid op die spits gedryf word. Die tolhuis is bereid om so 'n petisie te akkommodeer en mense sal dit by die tolhuis kan teken.
Volgens haar moet in gedagte gehou word dat die Montagupas een van die mees historiese passe in Suid-Afrika is. Die huidige situasie ontneem besoekers daarvan om die pas te kan besoek en te beleef.
George Herald het Dinsdag navraag gedoen by die kommunikasieafdeling van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke. Die antwoord sal in aanstaande week se uitgawe gepubliseer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’