GEORGE NUUS - As daar iemand is wat die huidige inperking verstaan, is dit die oudverkenningsoldaat, Wynand du Toit. Hy was in die 80's vir 837 dae in eensame aanhouding in Angola.
Ofskoon destyds se situasie verskillend was en nie regtig vergelykbaar is met die huidige nie, is daar lesse uit te leer, het hy by navraag gesê. Hy woon deesdae saam met sy gesin in Glentana.
Du Toit is op 21 Mei 1985 in Cabinda, Angola gevange geneem na 'n operasie van die verkenningskommando (recces) van die weermag. Hy is ernstig gewond, maar het oorleef en is eers in 1987 vrygelaat.
Volgens Du Toit het hy destyds geen mense rondom hom gehad nie en daar was nie kommunikasie met die buitewêreld nie. In die hele tyd is hy net drie keer toegelaat om vir 30 minute te kon oefen.
"Nou is ons by dag 40, ek kan kommunikeer met mense en ek word toegelaat om 'n winkel te kan besoek." Sedert verlede Vrydag kan hy ook elke dag oefeninge buite sy erf doen.
Maar hy het bygevoeg: "In dié dae dink ek baie terug aan destyds. Ek weet nou hoe om so 'n situasie te hanteer."
Toe hy aangehou is kon hy nie verstaan waarom hy in so 'n situasie is nie, maar nou verstaan hy dit. Hy glo dat mense dalk nie nou kan verstaan wat aan die gang is nie, maar hulle sal, as hulle eendag terugkyk.
As hy terugkyk besef hy daar is lesse uit te leer. Sy advies aan mense is om elke dag 'n bepaalde roetine te volg. "As jy gewoonlik 05:30 opstaan, doen dit steeds. Moenie die inperking as vakansie of as 'n aftyd beskou nie. Trek jou klere aan asof jy werk toe gaan. Doen soveel moontlik werk van die huis af en beplan soveel moontlike aktiwiteite vir elke dag. Dieselfde vir saans."
Die inperking is die ideale geleentheid vir mense om meer aandag aan hulle gesinne te gee.
Hy het gewaarsku dat die grootste gevaar verveeldheid is.
Waak daarteen om negatief te wees en probeer die positiewe in alles te sien. Dit help nie om te kla nie, want dit gaan nie die situasie verander nie.
Dit is so dat die feit dat sigarette en drank nie gekoop kan word, ekstra stremming op mense plaas.
Hy self bly besig en skryf steeds boeke. Verskeie het reeds uit sy pen verskyn.
Wynand du Toit, a former South African soldier known for surviving 937 days in solitary confinement in Angola in the 1980s, says his experience has prepared him for the current lockdown. He was part of a group of SA commandos (recces) that were caught while executing a raid on a Cabinda oil refinery in 21 May 1985. He shares some advice with our readers based on the lessons he learned during his confinement: it is important to avoid boredom by keeping to a daily routine, and to always try and see the positive side of things.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'