GEORGE NUUS - Die nuwe tye by die vuurwapenkantoor kom nadat vrae ontstaan het oor die lang toue mense wat soggens met hanekraai by die polisiestasie toustaan om gehoor te gee aan die amnestietydperk vir vuurwapenlisensies wat Sondag 31 Januarie verstryk.
Die vuurwapenkantoor by George-polisiestasie open hierdie week soggens om 06:00 en sluit om 18:00. Die naweek is dit oop tussen 06:00 en 20:00. Dit was voorheen net oop tussen 07:30 en 16:30 en naweke gesluit. Vanaf volgende week is dit weer die normale ure.
'n Leser het verlede week in 'n brief aan George Herald geskryf dat mense baie ongelukkig is oor die situasie by die vuurwapenkantoor, onder andere dat slegs 'n sekere aantal mense per dag gehelp word.
George Herald het daarna navraag by die polisie gedoen en is ingelig van die verlengde kantoorure.
Na verneem word was van die mense die afgelope paar weke al kort na 05:00 daar. Die aandklokreël in die oggende verstryk eers om 05:00. Ander was selfs voor 05:00 daar.
Daar is ook mense met kampstoele en koffie gesien. Blykbaar was 'n bejaarde man Dinsdagoggend kort na 00:00 al daar. Hy was eerste in die ry. Volgens inligting word net 16 mense per dag toegelaat en daar was kommer dat 'n bottelnek sou ontstaan.
Die leser skryf hy was vir die tweede keer verlede week om 05:05 daar. Toe was daar alreeds meer as 40 mense voor hom. Sover hy kon vasstel was die voorstes al van 04:00 daar. Vir hom was dit baie opmerklik hoeveel van die mense, ouer mense of pensioenarisse is.
Van die ander vuurwapeneienaars wat in George en omliggende gebiede woon is ook baie ongelukkig. In gesprekke het hulle verkies om anoniem te bly.
Een inwoner het vertel dat hy die laaste twee weke elke weeksoggend 05:00 daar was. "Daar is nie 'n kans dat jy onder die eerste 16 gaan wees as jy na 05:00 daar opdaag nie," het hy gesê.
Volgens hom is dit baie ongerieflik.
Van die mense wat al van 05:00 by die George-polisiestasie in die stadskern staan en wag.
Van die mense het hul eie sakeonder-nemings.
"As jy van nommers 8 tot 16 is, gaan jy eers laatmiddag gehelp word." Hy was verlede Vrydagoggend weer net na 05:00 daar en toe was hy nommer 49.
'n Vrou het gesê die organisering is swak. "Hoekom kan hulle nie mense se name op 'n lys sit en dit soos met gewone bestuurderslisensies hanteer nie?" wou sy weet.
Nog 'n inwoner, wat ook verkies om anoniem te bly, het gesê hulle is wetsgehoorsame burgers wat die wet probeer nakom. Dit word nou vir hulle moeilik gemaak. In 'n sin het hy begrip vir die polisie. Hulle doen net hul werk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'