Update
GEORGE NUUS - Tania Kelly (45), 'n voormalige heroïenverslaafde, het Dinsdagaand 'n lapsak vol bederfies en twee bokse met verrassings ontvang. Kelly ontvang tans hulp vir haar verslawing by 'n rehabilitasiesentrum aan die Weskus, Together We Can.
Die George Herald het sowat drie maande gelede (6 Junie) oor haar hartseer verhaal berig, as een van George se "verlore siele" wat haar nagte as 'n hawelose op straat moes deurbring. Met die hulp van 'n ou skoolvriendin van Port Elizabeth, Marguerite Smit, en Freddy Trout van Pasa (People Against Substance Abuse), is Kelly op 21 Julie na die rehabilitasiesentrum geneem.
Trout het Dinsdag 'n draai by die sentrum gaan maak en Kelly verras met bederfpakkies van haar vriendin en ander wat haar deur hierdie tyd wil bystaan.
Smit was die afgelope drie jaar na haar destydse bestie op soek. Nadat sy die artikel oor Kelly op die koerant se webwerf gelees het, het sy daarvan werk gemaak om haar in George se strate te gaan soek. Lees meer oor hul vriendskap en Tania se lewe hier.
'n Jong Tania Kelly, in haar twintigs. Kreatief, sprankelend en vol lewe.
Nou, na sowat agt weke van behandeling, begin Kelly stadig maar seker haar lang pad na herstel. Só vasberade is sy om gesond te word, dat sy gevra het om 'n hofbevel te teken vir haar eie inhegtenisname sou sy op 'n stadium van die sentrum wegloop.
Hulp vir Tania
Volgens Smit is hierdie die eerste keer dat haar vriendin self besluit het sy wil hulp hê.
"Dit was vir my duidelik sy wil graag lewe, maar daar is geen manier waarop sy dit self kan regkry nie." Smit was geskok met die gebrek aan staatshulp vir dwelmverslaafdes. Sy het 'n platform geskep om Kelly se verblyf by die sentrum deur groepsbefondsing moontlik te maak (vind die skakel aanlyn).
Sover is Kelly se verblyf tot einde September gedek, maar die hoop is om haar minstens twee jaar by die sentrum te hou. Dit gaan tans uiters goed met haar. Kelly doen naaldwerk en hanteer die lewe een dag op 'n slag.
Freddy Trout van Pasa.
Freddy Trout van Pasa het die volgende boodskap gestuur na sy kuier by Tania Kelly vroeër die week: “Ek het toe vir Tanya gesien gekry en goedjies oorhandig aan haar. Sy is so dankbaar, lyk baie beter en sy sê sy is dood gelukkig. Sy sê sy is so humbled deur die omgee en stuur liefde vir almal wat haar probeer help. Ek kon sien sy sprankel en het weer nuwe hoop vir die lewe. Sy geniet die rehab program baie meer as enige ander program wat sy ooit gedoen het (dit was haar woorde).”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'